Stem vir Morné as Mnr. Suid-Afrika
Morné Marais is nie in die stad gebore nie en skree ook nie vir die Blou Bulle nie, maar hy het lank genoeg in Polokwane gewoon om vir dié stad en sy mense lief te raak.
POLOKWANE – Morné Marais is nie in die stad gebore nie en skree ook nie vir die Blou Bulle nie, maar hy het lank genoeg in Polokwane gewoon om vir dié stad en sy mense lief te raak.
Morné is ‘n finalis in die Mnr. Suid-Afrika-kompetisie en het drie jaar gelede Polokwane vir die Kaap verruil, al het hy net beplan om vir twee weke daar te kuier.
Hy vertel dat hy 28 jaar gelede in Dundee in KwaZulu-Natal gebore is en sy gesin het na Polokwane verhuis toe hy twee-jaar-oud was.
Hier het hy aan die Hoërskool Pietersburg gematrikuleer. Hy sê hy is ‘n buitelugmens en is lief is vir sport.
Op skool het hy rugby, krieket en jukskei gespeel en ook aan atletiek deelgeneem. Hy vertel laggend dat hy jukskei gespeel het net om ‘n meisie te beïndruk.
Morné sê sy modelloopbaan het ook op skool begin toe hy aan Mnr. Pietersburg en Prom Nite deelgeneem het.
Hy sê na skool het hy by die polisie se radiotegniese eenheid gaan werk. “My pa was ‘n polisieman en ek wou van kleins af in die polisie wees,” vertel hy.
Hy vertel hy het na ‘n paar jaar na Durban verhuis waar hy rugby gespeel het. Dis dié dat hy nou nog vir die Haaie skree. “Toe is ek na Dubai waar ek in ‘n hotel se gimnasium as persoonlike afrigter gewerk het.”
Morné sê hy voel baie sterk oor sy betrokkenheid by liefdadigheidswerk. Hy is betrokke by en besoek gereeld die Ubuntu Huis vir weggooibabas. Dit is ook die rede waarom hy besluit het om aan Mnr. Suid-Afrika deel te neem, “Ek wil ‘n verskil in mense se lewens maak.”
“Mnr. Suid-Afrika is nie net ‘n skoonheidskompetisie nie. Dit gaan daaroor dat jy teruggee aan die gemeenskap. Vir my gaan dit oor die mense wat ek kan help. Ons is ook deel van Joost van der Westhuizen se liefdadigheidsorganisasie, J9, en dit is ‘n voorreg om so betrokke te wees,” verduidelik hy.
Morné is enkellopend en sê sy droomvrou is iemand wat God eerste in haar lewe sal stel. “Sy moet stand-vastig wees, weet wat sy van die lewe wil hê, sy moet na haarself kyk, ‘n sin vir humor hê en met ‘n wye verskeidenheid mense oor die weg kan kom.”
Morné spandeer baie tyd in die gimnasium. “Ek gaan soms twee keer per dag en ek oefen elke dag van die week. Ek volg ook ‘n spesiale dieet.”
Vinnige feite:
• Sjokolade of vanilje: vanilje.
• Katte of honde: katte.
• See of berge: albei.
Volg Morné op Twitter by @morras12, op Facebook by Morné Marais en op Instagram by morras77.



