Matoppie makietie raak elke jaar meer gewild
Die Matoppie Musiekfees op Willem van Schalkwyk se plaas, Vreden-oord naby Alldays, het 'n gewilde jaarlikse instelling geword waarna daar lank uitgesien word.
ALLDAYS – Die Matoppie Musiekfees op Willem van Schalkwyk se plaas, Vreden-oord naby Alldays, het ‘n gewilde jaarlikse instelling geword waarna daar lank uitgesien word.
Gereelde feesgangers, sommige van ver af, vermeerder elke jaar en aanhangers beskryf dié unieke bosveldfees as iets wat doodeenvoudig nie misgeloop kan word nie.
Oor die langnaweek van 21 tot 23 Maart het meer as 350 mense die fees bygewoon en hierdie jaar is daar behoorlik makietie gehou met uitstekende vertonings Vrydag- en Saterdagaand.
Volgens feesgangers is die Matoppie Musiekfees nie soos om na net nog ‘n vertoning te gaan kyk nie, maar ‘n belewenis om hierdie gehalte kunstenaars in die Bosveld te ervaar met boere-gasvryheid as wagwoord.
Boerekos soos skaap op die spit, beesstert, varklies, pampoenkoekies, boontjies, knoffelaartappeltjies asook ‘n verskeidenheid brode en slaaie is bedien en die vure het tot laatnag gebrand.
Van die bekende kuns-tenaars wat vanjaar opgetree het, was Juanita du Plessis, Adam Tas, Rikus Nel, en Liza Bronner.
Mischa Becker, ‘n opkomende sanger van Polokwane, was ook deel van die vermaak.
Van Schalkwyk, sy vrou Ria en hulle twee dogters Liela en Hesti wat vir die meeste reëlings verantwoordelik was, praat al klaar van die volgende Matoppie Musiekfees met moontlike gaskunstenaars soos Bok van Blerk en Theuns Jordaan op hulle wenslys.
“Die funksie was `n reuse sukses en almal het dit baie geniet. Die kunstenaars was baie professioneel en het na elke vertoning handtekeninge uitgedeel en ook CD’s en DVD’s verkoop,” het Liela vertel.
Van hierdie kunstenaars het al meermale by die Matoppie Musiekfees opgetree en kan nie ophou praat oor die ontspanne bosveld-atmosfeer wat jaarliks by die fees heers nie.
Die Van Schalkwyk’s bedank graag die fees se borg, SA Brouerye, asook almal wat daar gewerk het en deel was van die funksie. Hulle bedank ook al die gaste wat die fees op die plaas bygewoon het.



