Die die spore van d’Kat
Henk d'Kat is bekend as een van die beste Afrikaanse sangers, sy stem klink soos Koos du Plessis as hy sing-praat, met 'n tikkie Theuns Jordaan en miskien nog 'n knippie Cat Stevens wanneer hy sing.
POLOKWANE – Henk d’Kat is bekend as een van die beste Afrikaanse sangers, sy stem klink soos Koos du Plessis as hy sing-praat, met ‘n tikkie Theuns Jordaan en miskien nog ‘n knippie Cat Stevens wanneer hy sing.
Henk d’Kat, oftewel Henk Botes, is alreeds vir die afgelope 18 jaar in die musiekbedryf en het bekendheid verwerf in Kaapstad en Pretoria se tea-ters met sy Cat Stevens huldeblykopvoerings.
Henk het homself onlangs in Polokwane gevestig na hy en ‘n skoolvriendin, Sonja Eloff, mekaar na jare gevind, verlief ge-raak het en in Februarie getrou het.
Henk en Sonja toer tans deur die Wes-Kaap. “Ons gaan basies die Kaapse toer afsluit hier by die huis met A Night With The Great Songwriters op 23 Mei,” vertel Henk.
Hy en Sonja het saam ‘n tuisteater, 19 on Welsford, gestig en die nuwe projek hou die paartjie aan die gang soos die buitelug teater meer en meer populêr raak.
Die teater het ‘n intieme atmosfeer en kan sowat 40 mense akkomodeer.
“Ons wil nog mense soos Matthys Roets en Kevin Leo kry om te kom optree,” vertel Henk passievol.
Anton Goosen, Pink Floyd, Bob Dylan, Niel Young en Rodrigues is net ‘n paar van die musikante wat Henk geïnspireer en beïnvloed het deur sy mu-siekloopbaan.
“Ek is maar Old School. Ek hou van ouens soos Pink Floyd en Anton Goosen wat stories vertel met hulle musiek,” verduidelik Henk.
Hy speel al van 12-jarige ouderdom af kitaar en musiek is in sy familie se are met broer, Mel Botes, wat ook ‘n bekende kitaarspeler en sanger is.
Elke liedjie op Henk se eerste album, Die Tydlose Reis, wat in 2005 vrygestel is, vertel ‘n storie. “Ek het die musiek vir Die Tydlose Reis gekomponeer en my digtersvriend, Braam Smit, het die lirieke geskryf,” vertel Henk.
Hy werk ook tans aan ‘n nuwe album en het die lirieke en musiek self geskryf.
Henk en Thys die Bosveld-klong beoog ook om saam ‘n duet of twee te op te neem vir Thys se nuwe album.
Een van die hoogtepunte van Henk se musiekloopbaan oor die jare is sy optrede by die Performer Teater, wat nou die Brooklyn Teater heet, by Menlo Park.
“Ek het saam met ‘n band die Cat Stevens show gedoen en vir drie aande voor ‘n vol huis opgetree,” vertel hy.
“Dit was die begin van groot dinge,” voeg Henk by.
Nog hoogtepunte sluit lief-dadigheidskonserte vir die Tafelronde asook ‘n optrede by die Plett Barnyard Teater in.
Enigeen wat belangstel om “A Night With The Great Songwriters” by te woon op 23 Mei kan Henk by 072 758 2634 skakel.



