Kerklede hekel 344 kniekombersies
Die Nederduitch Hervormde Kerk-Welgelegen se kniekombersieprojek is besig om fluks te vorder.
POLOKWANE – Die Nederduitch Hervormde Kerk-Welgelegen se kniekombersieprojek is besig om fluks te vorder.
Vroeër vanjaar het Review berig oor die kerk se onderneming om kniekombersies te hekel wat hulle dan aanmekaar gaan werk om die grootste gehekelde kombers in die wêreld te maak.
Die plan was aanvanklik om die kombers 600m² groot te maak, 400 gehekelde kombersies saam, maar toe Review verlede Maandag daar gaan inloer het, het ds. Henk Joubert gesê soos sake nou staan, gaan hulle veel meer komberse kry as net 400. “Ons trek reeds by 344 en ons afsnytyd is eers in Julie,” het hy gesê.
Die dag van die groot onthulling van die wêreld se grootste kniekombers vind plaas op Oosskool se rugbyveld op 8 Augustus.
Wol vir hierdie projek word teen ‘n afslagprys deur Levant Home and Decor verskaf.
Die kerk ken ook R100 geskenkbewyse van Panarotti’s toe aan kombersmakers na elke 50 komberse wat hulle ingesamel het. Hierdie pryse word op ‘n gelukkige trekking-grondslag toegeken. Verlede Maandagaand het Susan van Aswegen twee geskenkbewyse gewen. Anke Bronkhorst en Memory Strydom het ook met geskenkbewyse weggestap.
Op 8 Augustus sal opmetings gemaak en foto’s geneem word wat dan aan die Guinness World Records-agentskap gestuur sal word vir beoordeling. Die vorige wêreldrekord van 286m² is in Amerika opgestel.



