Aand saam met die grootste liedjieskrywers
Oud en jonk het Vrydagaand by die 19 on Welsford-tuisteater bymekaargekom om die aand saam met plaaslike sangsensasie, Henk d'Kat, te spandeer.
POLOKWANE – Oud en jonk het Vrydagaand by die 19 on Welsford-tuisteater bymekaargekom om die aand saam met plaaslike sangsensasie, Henk d’Kat, te spandeer.
Henk en sy vrou, Sonja, het ‘n gesellige kuierarea en buitelugteater by hul huis in Bendor ingerig waar kunstenaars kan optree.
“Hier is plek vir sowat 40 gaste en ons wil geleenthede skep vir ‘n heerlike intieme kuier met goeie musiek en geselskap,” het Henk gesê kort voor hy die palletverhoog betree het.
“Ons hou dikwels vertonings en mense kan hul eie piekniekmandjies bring en heerlik saam kom kuier.”
Vrydagaand was daar gesellige vure om die koue te verdryf en vars-gebakte potbrood om die leë mae te vul.
Die tafels is gemaak van ou houtpallette en Sonja en Henk het viltpenne beskikbaar gestel sodat gaste boodskappies op die tafels kon skryf.
Antoinette Coetzee (25) het die vertoning geopen met twee liedjies, Sewe Oseane en ABBA se bekende liedjie, Chiquitita. Antoinette is ‘n inwoner van Polokwane wat haar liefde vir musiek wil uitleef.
Henk en Sonja besit ‘n maatskappy, Mighty Promotions and Entertainment. Hulle help jong kunstenaars op hulle voete kom.
Nadat Antoinette gesing het, het Henk sy kitaar uitgehaal en agter die mikrofoon ingeskuif.
“Die aand se naam is The Night of the Great Songwriters, en dus gaan ek vir julle liedjies van van die grootste liedjieskrywers sing,” het hy gesê.
Hy het die gehoor bekoor met liedjies van Leonard Cohen, Bob Dylan en Eric Clapton. Selfs Dire Straits en Rodrigues se musiek het ‘n draai op die verhoog gemaak.Die klein, intieme gehoor het behoorlik aan Henk se lippe gehang.
“Hier is ‘n lekker atmosfeer, daarom kom ons hierheen,” het Madeleine Ray vertel. Haar man, Clinton, het bygevoeg dat dit nie nodig is om bokshandskoene na dié kuierplek te bring nie.
Belinda Fouché en haar man, Erik, vertel dat behalwe vir die feit dat hulle vriende met Sonja en Henk is, daar nie ander gesinskuierplekke in Polokwane is nie.



