Is ‘n swembad ‘n goeie belegging?

AAN die einde van die winter begin huis-eienaars dit oorweeg om 'n swembad vir die somer te bou en daar is baie geldige redes vir so 'n besluit, solank jy nie verwag dat dit duisende rande by die waarde van jou huis gaan voeg nie

AAN die einde van die winter begin huis-eienaars dit oorweeg om ‘n swembad vir die somer te bou en daar is baie geldige redes vir so ‘n besluit, solank jy nie verwag dat dit duisende rande by die waarde van jou huis gaan voeg nie.

“As ‘n mens byvoorbeeld op ‘n snikhete dag in die verkeer sit, is die vooruitsig om in die swembad te spring wanneer jy by die huis kom baie aanloklik. Swembaddens kan ook ‘n integrale deel van ‘n stylvolle onthaalarea vorm.

Swem is een van die maklikste maniere om fiks te bly en boonop sal jou kinders en hul vriende waarskynlik heeldag lank in die swembad wil baljaar.

“Maar, ‘n mens moet natuurlik in gedagte hou dat swembaddens baie onderhoud vereis,” sê Berry Everitt, besturende direkteur van die Chas Everitt International-eiendomsgroep.

“Filters moet skoongemaak word, blare moet uitgeskep word en jy is skaars klaar daarmee voor die volgende blare in die water waai. Die water moet getoets word en verskeie chemikalieë moet gekoop en bygevoeg word om die swembadwater skoon en helder te hou en alge ‘n nekslag toe te dien.

“Swembadpompe en suigapparaat moet ook sorgvuldig onderhou word en as jy die beste waarde uit jou swembad wil kry, mag dit nodig wees om ‘n hitteruiler aan te bring om die swemseisoen so lank moontlik uit te rek.

“Ingevolge die wet moet jy boonop die swembad omhein om kinders uit te hou of ‘n veiligheidsnet aanbring wanneer die swembad nie gebruik word nie.”

Everitt skryf in die Property Signposts-nuusbrief dat swembaddens deesdae in ‘n wye verskeidenheid groottes en vorms beskikbaar is en dat pryse baie kan verskil, veral danksy spesiale aanbiedinge in die winter en net na afloop van die swemseisoen in Maart en April.

“‘n Tradisionele swembad van sement met ‘n marmeragtige afwerking (marbellite) sal jou waarskynlik minstens R35 000 kos. Voorafvervaardigde veselglasswembaddens en swembaddens wat bo die grondoppervlak aangebring word sal waarskynlik effens goedkoper uitwerk, afhangende van die grootte, maar sulke swembaddens is gewoonlik redelik vlak.”

Ongeag hoeveel jy aan die swembad be-stee, sê Everitt, sal jy na raming hoogstens 15% van die koste verhaal in terme van toegevoegde waarde; sou jy besluit om die eiendom te verkoop. Dit vergelyk sleg met 100% van die koste van ‘n bykomende motorhuis en tot 300% van die koste om die huis binne en buite te verf.

“Voordat jy dus ‘n swembad bou moet jy baie seker maak dat jou gesin en vriende dit dikwels gaan benut en dat jy self lank genoeg in die huis gaan aanbly om die gerief te geniet en om die boukoste en instandhoudingskoste te regverdig.

“Natuurlik moet jy slegs sake doen met betroubare swembadbouers wat lede van die Nasionale Instituut vir Spa-baddens en Swembaddens (www.nspi.co.za) is.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button