POLOKWANE – Haar naam is uniek en so ook haar kuns.
Miqra Ormande Miles, oftewel Miq Miles, is ‘n bekende kunstenaar van Polokwane.
Sy is in Polokwane gebore en was hier op skool, maar het die stad later verlaat en regoor Suid-Afrika in verskeie dorpe gewoon. Sy en haar man, Willie, het onlangs teruggetrek na Polokwane, “terug na my kinders toe”.
Sy vertel haar seun het haar geskakel en gesê hy is bekommerd oor hulle en dat hy ‘n kothuis vir haar en Willie op sy plot sal bou. “Dit is vir my baie lekker by my kinders,” sê sy.
Miq vertel sy was van kleins af kunstig.
“Ek was in Noorderland op skool en het kunsklasse geloop. My ouers het geglo dat om ‘n kunstenaar te wees is nie ‘n beroep was nie, en dat ek eerder ‘n professie moes beoefen,” vertel sy.
Sy vertel verder dat sy teo-logie studeer het, maar dat die liefde vir die kunste altyd in haar was.
Sy sien haar kuns as profeties. “Dit is lekker om te verf en ek wil my lewe lank net verf. Elke skildery is ‘n verrassing.”
Miq verkies om met olie te werk, maar werk ook met akriel. “Die een is nie minderwaardig teenoor die ander een nie, ek verkies net olie.”
Sy en Willie het hulle sewe kinders en vyf kleinkinders.
“My kinders is nie regtig kunssinnig nie, maar een van my kleinseuns het eendag by my gekom en gesê hy wil verf. Hy verf nogal mooi, daar is definitief ta-lent daar.”
Miq vertoon haar skilderye dikwels by kunsfeeste en vertel dat sy ten minste een maal per jaar ‘n uitstalling aanbied.
Haar skilderye word op haar webblad asook ander webblaaie geadverteer waar versamelaars dit dan raaksien en aankoop.
“Daar is heelwat oorsese versamelaars wat my kunswerke koop,” vertel sy.
Miq vertel dat dit vir haar lekker is om haar skilderye op kuns-tefeeste te vertoon en te verkoop aangesien sy die interaksie met die mense daar geniet.
Haar gunsteling kunstenaar is Adriaan Boshoff.
“Hy het die vermoë om die gees van dit wat hy skilder vas te vang. My gunsteling skildery van hom is van ‘n dogtertjie wat by ‘n perskeboom staan.
Iets wat hy gesê het wat my vir ewig sal bybly is dat daar ‘n stukkie van jou siel sterf met elke kunswerk.”



