Polokwane Skou, Musiekfees spog met gróót name in SA-musiek
Die Polokwane Skou en Musiekfees vind vanjaar 'n bietjie later as gewoonlik plaas. Die skou het gister (Woensdag) begin en strek tot Saterdag.
POLOKWANE – Die Polokwane Skou en Musiekfees vind vanjaar ‘n bietjie later as gewoonlik plaas. Die skou het gister (Woensdag) begin en strek tot Saterdag.
Daar is verskeie gaskunstenaars wat gaan optree onder andere Prime Circle, Jakkie Louw, Elvis Blue, Snotkop en 4Werke.
Hoogtepunte van die fees sluit in:
Elvis Blue: Nadat Jan Hoogendyk, beter bekend as Elvis Blue, die Suid-Afrikaanse Idols kompetisie in 2010 gewen het, het hy drie CD’s, waarvan een Afrikaans, vrygestel. Al drie sy albums is vereer met Sama-toekennings in 2012, 2013 en 2014.
Hy is ook die eerste Afrikaanse sanger wat op die Top-10 van die iTunes Store pryk.
Elvis Blue het reeds voor 2010 begin sing en het verskeie CD’s onder sy eie naam uitgebring.
Hy het ook al konserte vir bekende sterre soos Bon Jovi en James Blunt geopen.
Elvis sal Saterdag te sien wees om 19:00 by die Polokwane Skou.
Snotkop: Snotkop, bekende Afrikaanse sanger, was eers ‘n kwaitoster wat onder die naam Lekgoa opgetree het.
Sy regte naam is Francois Henning en, volgens sy Facebook-blad, is Snotkop ‘n naam wat sy pa hom gegee het toe hy jonger was. Hy het reeds meer as 150 000 albums verkoop.
Uit vyf van Snotkop se vrystellings, was vier albums vir Sama-toekennings benoem vir die beste Afrikaanse Pop album. Ook spog hy met nie minder nie as nege toekennings nie.
In 2012 het sy CD “Ek like van Jol” ook weggestap met die Sama-toekenning vir beste sokkie-album van die jaar.
Snotkop was te sien in programme soos Generations en 7de Laan en op MK se program Petrolkop. Ook het hy die rol van Riekie vertolk in RSG en Kyknet se radiodrama, Stralejakkers.
Snotkop sal te siene wees by die Polokwane Skou op Saterdag om 20:00.
Jakkie Louw: Jakkie Louw, bekende snger van Drie Pikkewyne en Een Miljoen, tree Vrydagaand op by die Polokwane Skou en Musiekfees.
Jakkie het reeds op hoërskool begin musiek maak en liedjies skryf. In sy laaste twee jaar op skool het Jakkie en sy musiekgroep die “Battle of the Bands” gewen.
Na skool het Jakkie gesing om ekstra geld te maak en in sy tweedejaar op universiteit het hy gaan toer saam met kunstenaars soos Theuns Jordaan en Koos Kombuis.
Die liedjie Drie Pikkewyne is geskryf as ‘n braaivleisgrapliedjie en het amper oornag vir Jakkie bekendheid verwerf as kommersiële sanger.
In 2010 het Jakkie verdere wegholsukses behaal deur saam met Kevin Leo op te tree as die gewilde sanggroep, Jakkals en Leeu.
Jakkie Louw tree Vrydag om 20:00 by die skou op.
Prime Circle: Prime Circle bestaan uit vyf lede naamlik Ross Learmonth (kitaar en stem), Marco Gomes (baskitaar), Dale Schnettler (dromme), Dirk Bisschoff (hoof kitaar) en Neil Breytenbach (klawerbord).
Die groep is reeds in 2000 gestig en werk vanuit Johannesburg. Hulle het al vyf CD’s uitgereik en multi-platinum status bereik. Hulle het verskeie toekennings ingepalm waarvan onder andere 14 Sama-toekennings. Hul vyfde studio album, Evidence, is vroeg in November 2012 in Suid-Afrika vrygestel na die wegholsukses van hul album, Jekyll & Hyde.
Prime Circle het by verskeie groot konserte opgetree soos die Nelson Mandela 4664 konsert en die 94.7 Highveld Stereo Jo’burg Day asook by Oppiekoppie en Splashy Fen My Coke Fest.
Prime Circle sal Saterdagaand om 21:00 by die Polokwane Skou en Musiekfees te sien wees.
4Werke: 4Werke is ‘n muskikale ontploffing in die Afrikaanse musiek bedryf.
Die groep bestaan uit vier lede naamlik Nicholis Louw, Ray Dylan, Elizma Theron en Monique.
4 Werke is ‘n projek van Select Music wat uniek is in die sin dat dit vier groot name in die Afrikaanse musiekbedryf saamsmee op een album. Elke lid in die groep het steeds hul suksesvolle solo-loopbane op die been gebring, maar staan tyd af om saam op te tree en hul aanhangers te vermaak.
4Werke tree Vrydag op by die Polokwane Skou en Musiekfees om 17:00.



