Rynardt leef sy skaatsdroom uit
Inwoners van Polokwane is dalk nie bewus daarvaan nie, maar 'n groot skaatsplankgemeenskap is aktief in dié stad.
POLOKWANE – Inwoners van Polokwane is dalk nie bewus daarvaan nie, maar ‘n groot skaatsplankgemeenskap is aktief in dié stad.
Een van die grootste, mees bekende skaatsers is die 23-jarige Rynardt van der Merwe.
Wanneer hy nie skaatsplank ry nie, werk hy by Bucan Office Equipment of spandeer tyd saam met sy meisie, Julie Stols, en sy vriende.
Rynardt vertel dat hier meer mense in die stad is wat skaatsplank ry as wat die gemiddelde inwoner dink. “Ek sien by kompetisies hoe die jongmense saamkom om deel te neem. Hulle kry nie baie geleenthede om te skaats nie.”
Rynardt het eiehandig agter in sy erf ‘n baan ingerig waar hy en sy vriende in die aande na werk en naweke kan skaats. Hier kuier hulle ook gereeld saam. “Dit het my presies ‘n jaar geneem om die gat te grawe en sement oor te gooi, en die baan is nog nie klaar nie.”
Rynardt onthou sy eerste skaatsplank goed. Sy ma het die plank vir hom gekoop en hy hou hom steeds as aandenking. “Ek was 13 en in gr. 7 by Laerskool Piet Hugo. Ek het op die skaatsplank geklim, my eerste skop gegee, en onmiddellik geweet dit is wat ek wil doen.”
Rynardt vertel dat hy ten minste elke tweede dag probeer oefen. “Deur die jare het ek al effens seergekry, maar nooit te ernstig nie. Ek het byvoorbeeld nog nooit iets gebreek nie. Die seerste wat ek gekry het, was toe ek eendag my been oopgestamp het tydens ‘n toertjie.”
Verder gee Rynardt raad aan ander beginners: “hou aan oefen en kry jou toertjies in lyn. Wees altyd voorbereid en moet nooit ophou hoop nie.”
Oor watter skaatsplank beter is, sê Rynardt dat daar baie faktore is wat in ag geneem moet word. “As jy groot voete het, het jy ‘n groter plank nodig. As jy klein voetjies het, ‘n kleiner plank. Dit hang ook af wat jy wil doen met die skaatsplank; watter tipe toertjies wil jy doen. Die wiele is baie belangrik, dit mag nie rubber wiele wees nie.”
Laastens vertel hy dat hy definitief verslaaf is aan skaatsplank ry en dat sy kat se naam selfs ‘n skaatsplankterm is, Melon.
“Melon beskryf hoe jy jou skaatsplank op ‘n sekere manier vasgryp.”



