EntertainmentLifestyle

Snotkop praat oor sy loopbaan

Saterdagaand het die Polokwane Skou en Musiekfees gehore op hul voete gehad toe Snotkop opgetree het.

POLOKWANE – Saterdagaand het die Polokwane Skou en Musiekfees gehore op hul voete gehad toe Snotkop opgetree het.

Review het in ‘n ekslusiewe onderhoud met Snotkop, sy regte naam is Francois Henning, gesels.

“My eerste paar optredes as Snotkop was maar in klubs, maar die eerste groot optrede was by Aardklop. Dit was ‘amazing’,” vertel Snotkop.

Hy vertel hy was eers bekend as Lekgoa en het kwaito-musiek gemaak. Sy huidige verhoognaam kom van ‘n bynaam wat sy pa vir hom gehad het as kind.

Snotkop en sy pa was baie na aan mekaar en hy het ook vir sy pa ‘n liedjie geskryf, Song vir My Dad, wat sy gunsteling liedjie is.

“Dis nie net my gunsteling liedjie nie, maar ook een van die moeilikste ‘songs’ om te sing. Die liedjie, en my pa wat oorlede is, lê my baie na aan die hart.”

As hy nie kon sing nie sou hy graag op ‘n verafgeleë tropiese eiland ‘n kroegman wou wees met geen besittings nie. “Of ek sal ‘n voorman op ‘n plasie in die Karoo wou wees,” lag hy.

Snotkop geniet die musiek van Black Eyed Peas en sal graag ‘n konsert vir dié groep wil open. Hy luister egter glad nie na “heavy metal” nie.

Sy grootste verleentheid? “Ek het ‘n vrou op die verhoog genooi en toe val sy daar af. Dit was werklik ‘n verleentheid vir my. Ek het só sleg gevoel.”

Verder vertel hy dat, van al die snaakse dinge wat al met hom op die verhoog gebeur het, die ergste is wanneer hy sy woorde vergeet. “Dit gebeur gewoonlik by die Huisgenoot Skouspel, want mens moet onbekende liedjies leer.”

Snotkop sê sy aanhangers hou hom gemotiveerd.

“Ek staan tot die laaste aanhanger sy CD gekoop het, drukkie gegee het of handtekening gekry het. Ek kan net dink hoe teleurgesteld ek sal wees as ek in ‘n ry staan om my gunsteling ster te ontmoet en hy sê net skielik hy moet nou gaan.”

Snotkop kan nie net sing nie, maar maak volgens hom ook ‘n ordentlike kerrie en kan ook skilder.

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button