Die man agter Jakkie Louw se grapliedjies
"Môre as die son weer skyn en al my trane verdwyn, dan stuur ek die liedjie op die rug van die wind; maak seker dat jy dit sal kry," lui een van Jakkie Louw se liedjies se lirieke.
POLOKWANE – “Môre as die son weer skyn en al my trane verdwyn, dan stuur ek die liedjie op die rug van die wind; maak seker dat jy dit sal kry,” lui een van Jakkie Louw se liedjies se lirieke.
“Die liedjie is Reën in die Kaap en ek het hom geskryf toe ek 15 jaar oud was toe my boetie, daai tyd 18 jaar oud, in ‘n motorfietsongeluk oorlede is.”
Jakkie het verlede Vrydagaand by die Polokwane Skou en Musiekfees opgetree en Review het met hom gesels.
Jakkie sing reeds van ‘n vroeë ouderdom af en vertel sy eerste optrede was by ‘n braai saam met vriende. “Ek het eendag my Jakkie-hoed afgehaal en vir my vriende gesê hulle moet betaal vir my musiek. So kry ek toe net een van daai ou R1 munte. Die munt is in 1979 vervaardig en is nou vasgeplak teen my kitaar.”
Hy sê hy is gebore om mense te vermaak en het ook reeds in vier films gespeel waarvan die jongste volgende jaar vrygestel gaan word. Jakkie vertolk ook ‘n nuwe karakter in die gewilde Lollos DVD’s genaamd Gomgompie. Robbie Williams en Dave Matthews is van Jakkie se gunsteling sangers en hy vertel dat hy daarvan droom om eendag ‘n vertoning vir Williams te open. Met elke kunstenaar gebeur daar soms iets snaaks op die verhoog en so ook met Jakkie. “Dit was ‘n vertoning wat ek en Kevin Leo saam gedoen het. Kevin se maag was nie te lekker nie en terwyl ons Voshaarnooi gesing het hy ‘n wind gelos. Ek het so begin lag dat hy ook nie verder kon sing nie.”
Kankerlyers, veral kinders, lê Jakkie baie na aan die hart. Hy vertel een van sy gunsteling liedjies is Een Miljoen Woorde. “Ek is lief daarvoor om die musiekvideo vir mense te wys, want dan besef hulle werklik waaroor dit gaan.”
Jakkie is 35 jaar oud en getroud met Anél. Hulle het verlede Woensdag ‘n tweede dogter, Cara, ryker geword – ‘n sussie vir hul oudste, Linke.



