Elvis Blue gesels
Sommer met die intrapslag sien Elvis Blue die komplimentêre droëwors raak en neem vir hom 'n stukkie.
POLOKWANE – Sommer met die intrapslag sien Elvis Blue die komplimentêre droëwors raak en neem vir hom ‘n stukkie.
“Ek is gek oor droëwors. Dit is my eerste keer in Polokwane en ek hou baie van die plek,” val hy met die deur in die huis.
Hierdie gewilde Suid-Afrikaanse sanger het Saterdagaand by die Polokwane Skou en Musiekfees opgetree.
Alhoewel Elvis reeds van sewejarige ouderdom af sing, was dit eers in 2010, ná sy wen in die bekende Idols-kompetisie dat Elvis werklik bekendheid verwerf het.
“My heel eerste optrede was op sewe by ‘n swembad by ‘n vakansieoord in Keimond. Dit was ‘n talentkompetisie en ek onthou ek het ‘n Niknaks-geskenkpak gewen. Ek was die gewildste seuntjie die hele vakansie want ek het vir almal Niknaks gegee.”
Verder vertel hy dat hy op 15-jarige ouderdom as kelner by ‘n familierestaurant moes werk, maar dat hy so ‘n slegte kelner was dat die bestuur hom die nar gemaak het. “Eendag sê iemand vir my ek moet my kitaar vat en by die betaalpunte van ‘n parkeerarea gaan sit. Só maak ek toe meer geld as my vriende wat kelners was.”
Hy vertel sy eerste Afrikaanse album is verlede jaar uitgereik. “Wanneer ek in Afrikaans sing, sing ek vir my mense; vir my ma, my vrou en my twee dogtertjies.”



