EntertainmentLifestyle

Rita is meer as net skole se koorleier

Met 27 jaar ervaring as koorleier is dit geen wonder dat die kore wat Rita Erasmus afrig telkens onder die top-kore van die mees gesogte kompetisies eindig nie.

POLOKWANE – Met 27 jaar ervaring as koorleier is dit geen wonder dat die kore wat Rita Erasmus afrig telkens onder die top-kore van die mees gesogte kompetisies eindig nie.

Rita hoop om nog so twee jaar lank kore af te rig, totdat sy 70 jaar oud is, maar sal hopelik nog oor ‘n hele paar jaar, kierie in die hand, voor ‘n koor staan; bloot omdat die skole waar sy afrig haar nie sal wil laat gaan nie.

Sy maak van hierdie kore landswye ambassadeurs.

Sy eien egter nie die eer vir haarself toe nie: “Dit is ‘n spanpoging en sonder Ria Odendaal en Tania Schwimm sou dit nie so goed gegaan het nie. Hulle bydrae is ongelooflik belangrik en ek sou nie sonder hulle hulp kon klaarkom nie.

“Ek het ook nie genoeg woorde van dankbaarheid vir Samantha Vorster en Yolande Cilliers se bystand nie. Die ongelooflike toegewydheid van die 80 koorlede in Oosskool se seniorkoor en die sowat 78 in die junior-koor maak dit ook soveel makliker. Woensdae is hulle teen 06:45 al gereed, reg om te oefen. Maandagaande staan hulle weer reg vir ‘n hele uur en ‘n half se oefening.”

Die junior- en seniorkoor van Oosskool en Hoërskool Pietersburg se meisieskoor het onlangs onder Rita se leiding deelgeneem aan die ATKV-Applous Koorkompetisie se streeksfinale en beide kore het goud verower. Uit die 12 kore wat deelgeneem het, het slegs vier kore goue toekennings gekry; drie daarvan kore wat Rita afrig.

Tydens die Super 12-koorfees in Pretoria, het Oosskool se juniorkoor 87% en die seniorkoor 93% behaal. Volgens die beoordelaars het die seniorkoor die voorgeskrewe item die beste gesing uit al 18 kore wat deelgeneem het.

Oosskool se seniorkoor is genooi na die ATKV-Applous gala-aand waar slegs agt kore van regoor die land sal meeding in die Applous-finaal om die land se beste laerskoolkoor te bepaal. Dié finaal vind op 30 Julie in Pretoria plaas.

Rita sê sy het baie geleer van koorafrigting by Gisela de Villiers, by wie sy “in-diensopleiding” gekry het, sowel as die talle koorkursusse wat sy bygewoon het.

Ria, die begeleidster van Oosskool se kore, het ‘n B.Mus-graad en Rita waardeer haar insette en raad met byvoorbeeld die tempo van stukke baie. Rita kies die liedjies wat die kore sing self.

Oosskool se seniorkoor is die afgelope drie jaar al toegelaat tot die Tswane Youth Festival, wat in die Staats-teater in Pretoria plaasvind, sonder om eers die vereiste oudisie af te lê.

In 1998 het Oosskool se seniorkoor ‘n landwye kompetisie gewen en ‘n koor van Noordskool, wat Rita óók afgerig het, het tweede gekom in die finale van die Applous-koorkompetisie.

Rita sê sy is veral bly vir die kinders se onthalwe wanneer die koor goed vaar.

Sy het ook velede jaar ‘n meisieskoor by PHS begin en sê dié koor staan nog in sy babaskoene.

Dit is veral vir haar baie spesiaal dat sy tans twee kleinkinders het wat ook in Oosskool se seniorkoor is.

Benewens die afrigting van kore is Rita ook in beheer van musiekbediening by die N.G. Kerk-Noord.

Sy lees voor uit briefies wat sy met verloop van tyd van koorlede ontvang het. Daaruit blyk duidelik die respek en liefde wat die kinders vir haar het, asook die dankbaarheid vir die motivering en inspirasie wat sy bring.

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button