EntertainmentLifestyle

Markdag ploeg terug in gemeenskap

Die Doornbult Gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) het verlede Saterdag 'n markdag aangebied by die Soetdorings Buiteklub.

POLOKWANE – Die Doornbult Gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) het verlede Saterdag ‘n markdag aangebied by die Soetdorings Buiteklub.

Plaaslike entrepeneurs het ‘n verskeidenheid tuisgebak, asook kase, lekkergoed, klere, biltong en ander heerlike eetgoed verkoop by dié markdag.

Die Doornbult GPF bied van tyd-tot-tyd markdae aan om die forum se fondse aan te vul. Die Doornbult GPF staan die polisie by met die bekamping van misdaad op plotte en plase.

“Die fondse wat die forum insamel, word teruggeploeg in die gemeenskap. Ons het borde aangekoop om ons paaie te merk sodat die nooddienste makliker toegang tot die wonings kan kry. Ons het verder brandbestrydingstoerusting en mediesetoerusting aangekoop. Verder ry ons gereeld patrollies in die gebied en word brandstof betaal uit die fonds,” het Mariaan Coetzee, een van die organiseerders van die markdag vertel.

Die markdag is gekombineer met ‘n welsynsprojek wat deur plaaslike motorfietsryers van verskeie klubs, inlsuitend die Pietersburg Roadhogs, Bikers That Care, Unicorn Riders, Ulysses Bosveld en Independents, ondersteun is. Die motorfietsryers het saamgespan en in ‘n konvooi die komberse en kos by Aretha Tehuis, Jo-Anne Rusoord, Bella Vista en Ivydale Shelter gaan aflewer Saterdagmiddag.

“Hierdie is iets wat ons doen om terug te gee aan die gemeenskap. Mens kan nie glo hoeveel mense in Polokwane honger ly nie,” het Basie van Tonder, president van die Pietersburg Roadhogs, gesê. “Ons is baie dankbaar vir al die skenkings wat ons ontvang het, maak nie saak hoe gering dit was nie,” het Coetzee gesê.

Die organiseerders het die volgende groot skenkers bedank: Mall of the North vir 50 komberse, Spar Thornhill vir kos, Agri Power Fencing vir kos en nie-bederfbare produkte en Soetdorings Buiteklub vir geborduurde “badges” vir die motorfietsryers se baadjies.

Die volgende Doornbult GPF-markdag sal op 26 Julie plaasvind.

Vir navrae rakende die Doornbult GPF of om ‘n stalletjie by die volgende markdag te bespreek, skakel vir Niekolene Page by 083 287 2320 of besoek die Doornbult GPF se Facebook-blad.

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button