Voëls en ryp by klub bespreek
Enige tuin het voëls nodig om te help met insekbeheer en om plantsade te versprei, het Joe Grosel, 'n ornitoloog (voëlkundige), aan lede van die Pietersburg Tuinbouklub verduidelik tydens hul maandvergadering verlede Dinsdag by Sterkloop Kwekery.
POLOKWANE – Enige tuin het voëls nodig om te help met insekbeheer en om plantsade te versprei, het Joe Grosel, ‘n ornitoloog (voëlkundige), aan lede van die Pietersburg Tuinbouklub verduidelik tydens hul maandvergadering verlede Dinsdag by Sterkloop Kwekery.
Grosel is ‘n boorling van Polokwane en het hier grootgeword. Hy het is ‘n kenner op die gebiede van ekologie, wildlewebestuur en voëlkunde. Tans bestuur hy ‘n ekologiese konsultasiesaak, Eden Route Eco-safaris, in die stad.
“Daar is sekere vereistes om voëls na jou tuin te lok,” het Grosel verduidelik. “Elke voël soek skuiling, kos, water en broeiplek of nesmaakplek.”
Volgens Grosel gebruik voëls water nie net vir drink nie, maar ook vir bad. “Dit help nie jy sit ‘n voëlbad in die middel van die gras nie. ‘n Voëltjie wil veilig voel. Water wat vloei lok ook voëls.”
Grosel het die tuiniers aangemoedig om voëls te lok deur natuurlike kos te verskaf. “Skep vir hulle voedingsgebiede, nektar, saad en plante wat insekte lok.”
Hy het verduidelik dat daar altyd bedreigings vir voëls is.
“Groot vensters is ‘n bedreiging want voëls vlieg daarin vas. Plak maar ‘n plakker daarop. Katte is egter jou grootste bedreiging. Sit maar ‘n klokkie om jou kat se nek om die voëltjies te waarsku.”
Na Grosel se gesprek oor hoe om voëls na jou tuin te lok, het hy aan die lede foto’s van verskillende soorte voëls gewys.
Hierna was Lazarus Sekhula, bestuurder van Sterkloop Kwekery, aan die beurt en hy het verduidelik wanneer en hoe om roosbome te snoei.
“‘n Roosboom moet op die regte tyd, einde Julie, gesnoei word en jy moet die regte snoeisker gebruik. Snoei die takkie so by die driekwartmerk af, net bo die ogie.”
Hierna het hy die dag afgesluit deur die tuinbouklub voor te stel aan Frostguard, ‘n rypkombers wat plante teen koue beskerm.



