EntertainmentLifestyle

Fees Inniebos is hier

INNIBOS se program is Woensdag reeds propvol feesdinge wat vyf debuutproduksies, die smaaklike Huletts-koeksisterkompetisie, die gratis Coca-Cola Rock-konsert en die Huisgenoot Afskopkonsert insluit.

INNIBOS se program is Woensdag reeds propvol feesdinge wat vyf debuutproduksies, die smaaklike Huletts-koeksisterkompetisie, die gratis Coca-Cola Rock-konsert en die Huisgenoot Afskopkonsert insluit.

Die lys van toneelstukke wat die eerste keer op die planke is by vanjaar se fees is: 4 000 Myl, Frats, Kop Onderstebo, Die Klaagliedere van ds. Tienie Benadie, en Jou Gat, my Skat!

Frats:

Daar heers groot opgewondenheid oor Frats, wat verlede jaar ‘n kort toneelstukkie was. Omdat dit so gewild was, is daar besluit om dit ‘n volwaardige produksie te maak.

Wessel Pretorius het hierdie stuk spesiaal vir Innibos tot ‘n vollengte vertoning uitgebou.

Gys en Jos is twee roeikampioene wat tydens ‘n wedvaart op die Krokodilrivier omslaan en op die oewer uitspoel. Hulle is jare lank vriende en terwyl hulle wag vir die reddingspan om op te daag, neem hulle hul lewens weer in oënskou. Dan gewaar hulle ‘n skuitjie in die verte al nader kom … Wat volg is ‘n ontknoping wat jou sal laat lag, huil en met deernis vul.

4 000 Myl:

Wanneer die 92-jarige Vera (Annelisa Weiland) een oggend ‘n lawaai in die haar woonstel hoor, weet sy nie of sy wakker is of droom nie.

In elk geval, haar tande is nog in die glas en haar gehoorapparaat in die laai.

In die voordeur staan Leo, haar 21-jarige kleinseun (Vilje Maritz) wat saam met sy beste vriend ‘n vier-maand lange fietstoer deur die land aangepak het. Al wat Vera weet, is dat daar iets verskrikliks langs die pad gebeur het en dat niemand die afgelope maand ‘n woord van Leo gehoor het nie. En nou staan haar lenige, fikse kleinseun, fiets en al in haar woonstel. Wat maak mens nou? Tee. Jy maak tee.

Kop Onderstebo:

Bernadette leef haar lewe streng volgens die ongeskrewe wette van die samelewing; kleuterskool, laerskool, hoërskool, hoofmeisie, universiteit, waar sy rekenkunde swot (want dit is die enigste manier om sukses in die toekoms te verseker), cum haar graad, werk vir ‘n suksesvolle firma, raak verloof aan haar eerste en enigste kêrel ooit, hulle is besig om ‘n huis saam te koop en hulle trou nou-nou.

Alles is in orde, die son skyn, daar’s nie reën voorspel nie, die blomme is gerangskik, haar rok is perfek, die kos is bord-uitlek-lekker (alhoewel Bernadette weet haar gaste is meer gesofistikeerd as dit) en sy is op pad na die haarsalon.

Wanneer Bernadette daar aankom, verwelkom Jackie haar en Jackie is nie Sonja nie en Sonja het presies geweet hoe om die borsels te draai en die krultange te knyp volgens Bernadette se standaarde.

Soos dit ‘n goeie haarkapper van Brits betaam, sleep Jackie dinge by die hare by, krap Bernadette se kop om, kry haar kop op hol, laat haar besef sy sit nog al die jare met haar kop in haar skoot en nou bevind sy haarself kop onderstebo in die middel van haar droom(wêreld)!

Hierdie debuutproduksie loop oor van ongelooflike jong talent. Jy sal jou hare uit jou kop trek as jy dit misloop.

Die Klaagliedere van ds. Tienie Be-nadie:

Die Klaaglierdere van ds. Tienie Benadie vertel die storie van ‘n middeljarige predikant van ‘n sukkelende Afrikaanse gemeente.

Die gemeente se lot is dieselfde as die van baie ander gemeentes: die lidmaatgetalle kwyn, die gemeente se skuldlas groei en die gemeentelede wat steeds tot die kerk behoort, is onseker hoe om sinvol in ‘n moderne wêreld te bly glo. ‘n Paar jaar gelede was Frank Opperman ‘n treffer in Dana Snyman se Die Uwe, Pottie Potgieter. Vanjaar het Dana Snyman spesiaal weer die pen opgeneem om hierdie teks vir Frank te skryf.

Dit beloof een van Innibos se spogproduksies te wees met vermaak uit die boonste rakke en iets om oor na te dink.

Jou Gat, my Skat!

Hierdie produksie is die derde uit die pen van Barry van Rensburg wat handel oor persoonlikheidstipes en kommunikasie style.

Dit volg op die suksesvolle Annale van ‘n Windgat en Ballade van ‘n Banggat. Teenoorgesteldes trek mekaar aan en soms uit…mekaar. Jou Gat my Skat! is ‘n komiese besoek aan die twee opperste pole in die samelewing: harde-gat en slapgat. Soos die vorige twee stukke is Jou Gat my Skat! komedie met diepte; dit wil mense met ‘n groter insig oor die lewe en oor menswees laat nadink.

Besoek www.innibos.co.za vir besonderhede en om jou plek te bespreek.

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button