Beseerde motorfietryers kry hulp danksy suksesvolle pretdag
Die motorfietsryersgemeenskap van die stad het die naweek 'n pretdag by Mongoose Pub and Grill gehou om geld in te samel vir twee inwoners wat onlangs in twee afsonderlike motorongelukke betrokke was.
POLOKWANE – Die motorfietsryersgemeenskap van die stad het die naweek ‘n pretdag by Mongoose Pub and Grill gehou om geld in te samel vir twee inwoners wat onlangs in twee afsonderlike motorongelukke betrokke was.
Hansie White en Steven Miller behoort nie aan ‘n mediese fonds nie en word albei tans in die Pietersburg Provinsiale Hospitaal behandel.
Hulle is ook met onbetaalde verlof en het dus geen inkomste nie. Die dag was vol vermaak vir oud en jonk, en het aktiwiteite soos springkastele, gesigverf, potspelkompetisies en stalletjies ingesluit. BB Suzuki Polokwane en McCarthy Motors Polokwane het motors uitgestal en die manne van McCarthy Motors het ‘n heerlike pot gemaak wat later per bord aan gaste verkoop is.
Ook was daar ‘n stalletjie wat worsbroodjies en gesmelte ham- en kaastoebroodjies verkoop het.
Sanger, Hans Drommedaris, het die gaste deur die loop van die dag met sy musiek vermaak. Hy vertel dat hy daarvan hou om betrokke te wees in die gemeenskap en daarom het hy nie geskroom om op te tree nie.
Mad Wabbit Tattoo Artist van Levubu was ook by die geleentheid vir diegene wat dapper genoeg was om ‘n tatoeërmerk te kry. Hulle skenk 10% van hul wins van die dag aan Hansie en Steven.
“Dit is baie lekker hier en ek wens die mense wat nie hier is nie, weet wat hulle misloop,” het Adrian Venter, een van die gaste, gesê. Teen druktyd het een van die organiseerders, Sariena Smith laat weet dat daar sowat R7 000 ingesamel is, maar hulle tel nog.
“Ek wil net graag vir Marius en Lizette Havenga van Mongoose Pub and Grill bedank vir die gebruik van hul perseel, asook vir McCarthy Motors, BB Suzuki Polokwane, BB Auto en Limpopo Toyota vir hul kontantbydraes.
“Dan ook ‘n groot dankie aan al die ander motorfietsryers en publiek wat kontantbydraes en diegene wat goedere geskenk het wat ons kan opveil,” het sy gesê.
Hansie se vrou, Ria het vir Sariena en Lizette Havenga bedank vir al hulle moeite. “Ons waardeer dit opreg en kan nie genoeg dankie sê nie.”



