EntertainmentLifestyle

Blommevrou Greta

Plaaslike blommerangskikker Greta Fourie is in dié dorp gebore en getoë, die jongste kind en enigste dogter in die gesin.

MAKHADO – Plaaslike blommerangskikker Greta Fourie is in dié dorp gebore en getoë, die jongste kind en enigste dogter in die gesin.

Sy ontmoet haar man in Pretoria waar sy studeer en dit was toevallig dat haar voornemende skoonouers ook in die destydse Louis Trichardt gewoon het.

“Dit is ook waarom ons vandag steeds hier as boere gestasioneer is,” lag sy.

Greta se liefde vir blomme het maar so oor die jare gekom.

Haar skoonma het haar 15 jaar terug aangemoedig om by die plaaslike blommeklub aan te sluit.

“Daar het ek vir tannie Grya van Wyk raakgeloop en sy het ‘n talent in my gesien wat ek nie besef het ek het nie,” vertel Greta.

Tannie Grya het vir Greta geskool in die kuns van blomme, en na ‘n kursus of twee by Elma Greyling in Polokwane kyk Greta nie terug nie.

Sy sê die “blomme” het haar “al oral gehad”, ‘n droomlewe terwyl sy doen waarvoor sy lief is: “ek het al die wêreld gesien”.

“Ek het ook my diplomas in onderrig-, demonstrateur-, en beoordelaar van blommekuns gestudeer en ontvang, en daarom was ek al genooi om in Kaapstad, Stellenbosch, Kimberley en ander dele van ons land, demonstrasies te gee en te beoordeel.”

Oorkant die water was sy al in Boston, Sydney en nou in Ierland om te gaan deelneem en werksklasse te gaan bywoon.

“Ek het al verskeie ‘Beste op Skou-pryse’ gewen en as aktiewe lid van Suid-Afrikaanse Flora Unie (SAFU) verwag hulle van jou om aktief te bly en steeds goud te wen op skoue.”

Sodoende bly jy as beoordelaar en rangskikker, op hoogte van die style en kuns van blomme vanoor die wêreld, verduidelik Greta.

Greta was een van drie vroue wat die Wêreld Blommeskou in Ierland in Junie kon besoek het.

“Suid-Afrika is genomineer om ‘n demonstrateur en ‘n beoordelaar te stuur om ons daar te gaan verteenwoordig.

“Ons is drie blommevroue vanaf Limpopo wat ons land verteenwoordig het as deelnemer en rangskikker.

“Soos altyd is so ‘n groot geleentheid ‘n wonderlike ervaring. Om te sien hoe kom 32 lande se dames bymekaar almal met ‘n groot liefde vir blomme en die rangskik daarvan.

“Die ervaring wat mens uit so ‘n groot skou leer is net onbeskryflik.

“Die werksklasse en demonstrasies wat aangebied word, is van die beste gehalte in die wêreld en so wonderlike verskeidenheid van plantmateriaal wat aan ons voorgehou word is net fantasties, sê Greta.

Alhoewel daar nie pryse huis toe gekom het nie, sê Greta die ervaring was leersaam en baie opwindend.

“Daar was goeie vriende en gelukkige oomblikke.”

Die besoek alleen was meer as genoeg om te werk daaraan om haar visier in 2017 by die volgende wêreldskou in Barbados te stel.

Die grootste mylpaal waarheen Greta werk is om dié vrou te wees wat genomineer word om Suid-Afrika se demonstrateur of beoordelaar by die skou te gaan verteenwoordig.

Tuis is Greta baie lief vir haar kinders, honde en lees. “Ek hou van mense en baie geselskap rondom my. En ek gaan nog eendag die speel van dromme bemeester,” lag sy lekker.

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button