Kardoesie vind haar tuiste by die gr. 8’s
Danksy 'n sang- en dansextravaganza wat toeskouers laat jil het van plesier, het die gr. 8-leerders van Hoërskool Pietersburg vanjaar die voorreg gehad om Kardoesie, die langbeenlooppop, in hul arms te hou.
POLOKWANE – Danksy ‘n sang- en dansextravaganza wat toeskouers laat jil het van plesier, het die gr. 8-leerders van Hoërskool Pietersburg vanjaar die voorreg gehad om Kardoesie, die langbeenlooppop, in hul arms te hou.
Die gr. 8’s het die gr. 12’s verlede Dinsdag met 5,5 punte uitgestof om as vanjaar se Kardoesie-wenners gekroon te word.
Die Kardoesie-kompetisie het sy ontstaan in 1968 gehad toe ‘n leerder, Heila Genis, dié pop aan die skool geskenk het. Vroeër jare het die skool se vier koshuise en dagleerders meegeding om Kardoesie vir hulle toe te eis en vandag loop dié kompetisie nog net so sterk tussen die graadgroepe.
Die leerders het in graadverband sang- en dansitems gelewer en die temas was:
• Gr. 8, In the Navy with Popeye the Sailor;
• Gr. 9, Freedom of Flight;
• Gr. 10, Madagascar Castaways;
• Gr. 11, Convicts, en
• gr. 12, Survivors.
Die tradisie wil dit hê dat Kardoesie in die kluis gebêre word tot voordat sy haar verskyning by die kompetisie maak.
Die wengroep mag die volgende dag met haar op die terrein spog, waar sy gewoonlik deur een van die ander grade ontvoer word.
Dan, op ‘n dag, maak sy weer haar verskyning en gaan dan terug in die kluis in tot die volgende jaar.
Kardoesie, PHS se simbool van kultuur, word as die skool se mees gewilde tradisie beskou; jy is eenvoudig nie ‘n Pietie as jy nie ge-Kardoesie het nie.
“Baie geluk aan Ina van der Merwe, haar helpers en die gr. 8-groep wat die trotse houers van Kardoesie is. Die hoë standaard het tot gevolg gehad dat die onderskeie groepe se punte baie naby aan mekaar was.
“Om ‘n massa toeskouers van nagenoeg 4 000 bymekaar te sien laat ons net besef dat ons iets reg doen. Dit het ons ook weer laat besef hoe dankbaar ons kan wees om by ‘n skool soos PHS betrokke te wees,” het Willie Schoeman, skoolhoof, gesê.



