Verkleurmannetjie se slag op die verhoog is spesiaal
Inwoners kan regskuif vir 'n vertoning uit die boonste rakke wanneer Chris Cameleon môreaand (Vrydag) by Laerskool Pietersburg op die verhoog klim.
POLOKWANE – Inwoners kan regskuif vir ‘n vertoning uit die boonste rakke wanneer Chris Cameleon môreaand (Vrydag) by Laerskool Pietersburg op die verhoog klim.
Chris het ‘n eiesoortige styl, bekoorlike verhoogpersoonlikheid en ‘n reputasie om gehore met sy vier-oktaafstem en stemtoertjies te betower.
Hy het in 1997 as basspeler en voorsanger vir die musiekgroep Boo! begin optree.
Boo! was ‘n eklektiese en musikale drietal wat wêreldwye kultusaanhang verwerf het.
In 2004 het Boo! hul instrumente weggebêre en Chris het sy vlerke gesprei deur sy Afrikaanse en Suid-Afrikaanse herkoms te ondersoek.
Hy het die hoog-aangeskrewe album Ek Herhaal Jou uitgereik wat verwerkings van die poësie van die ikoniese digter uit die 60’s, Ingrid Jonker, bevat het.
Kort daarna het hy ook sy eerste DVD, Volkleur, vrygestel en daarna het die vrystelling van die DVD vir Ek Herhaal Jou gevolg.
Verskeie ander CD’s en DVD’s het gevolg.
Op 18 Julie 2009 het Chris saam met groot internasionale sterre soos Dave Stewart, Aretha Franklin, Josh Groban, Cyndi Lauper, The Soweto Gospel Choir en Yvonne Chaka Chaka by die luisterryke Mandela 46664-konsert opgetree in New York.
In 2011 is hy aangewys as ‘n Leierskap vir Bewaring in Afrika-glanspersoonlikheidsambassadeur, ‘n hoedanigheid wat hy ook benut om sy passie vir bewaring verder te voer.
In Junie 2012 het Chris ‘n Innibos-feesproduksie saam met die Dra-kensbergse Seunskoor, Dreams, in die Sudwala Grotte aangebied waarin hy onder andere Ramirez se Missa Criolla saam met hierdie beroemde koor uitgevoer het.
Chris het 2014 afgeskop met ‘n suksesvolle toer van Klank van Jou Oë in Nederland en Belgie in Februarie.
Hy is tans besig om te werk aan sy volgende album vrystelling, Posduif, ‘n versameling toonsettings van die buitengewone en uitdagende gedigte van die jong digter Daniella Deysel.
Vir meer inligting oor Chris Cameleon se optrede in Polokwane, kontak vir Hanno Becker by 082 574 9431 of Kobus Verreynne by 072 033 1484.



