Chris se vele kleure
In die 1950's het Ingrid Jonker die wêreld bekoor met gedigte soos Ont-vlugting, Jy't My Gekierang en Bitterbessie Dagbreek.
POLOKWANE – In die 1950’s het Ingrid Jonker die wêreld bekoor met gedigte soos Ont-vlugting, Jy’t My Gekierang en Bitterbessie Dagbreek.
Vandag laat Chris Chameleon se toonsettings van hierdie gedigte die teks weer lewe kry en waardeer ‘n hele nuwe generasie hierdie meesterlike gedigte.
Vrydag het Chris Chameleon by Laerskool Pietersburg opgetree en Review het voor sy optrede by hom ingeloer vir ‘n eksklusiewe onderhoud.
Chris het vertel sy sangloopbaan het in 1971 al begin op die dag wat hy gebore is.
“My swaer het eendag my lewe vir my in perspektief geplaas. Hy het gesê ek sal nooit trou nie en nooit werk nie. Ek beplan nie om te trou nie en ek werk beslis nie. Om te sing en mense te vermaak is nie vir my werk nie,” het hy geskerts.
Op ‘n vraag oor sy eerste optrede moes hy behoorlik kopkrap.
“Was dit toe ek vier jaar oud was en die Onse Vader gesing het of in die laerskool toe ek ‘n matroos op die verhoog was? Of was dit op 27 April 2005 toe ek my eerste solo gelewer het,” het hy gewonder.
Hy het verduidelik dat hy nie kan kies tussen sang, televisie-, verhoog- en filmwerk nie. “Dis soos appels en pere, alles is verskillend. Ek geniet die ritme en toon van verhoogwerk en daar is ook toneelspel in sang.”
Al roem Chris homself nie daarop nie, het hy genoem dat hy ‘n ywerige jagter is. Hy jag egter nie vir trofeë nie, maar slegs vir die pot.
Die snaaksste ding wat al met Chris gebeur het was toe hy saam met Daniela Deysel agter die verhoog in ‘n Russiese aksent ge-skerts het en nie besef het sy mikrofoon was aan nie.
Hy het ook vertel dat daar nie vreeslik baie dinge is wat hom motiveer nie. “Niks en niemand motiveer my nie. Motivering is nie iets wat jy kry nie, maar iets wat jou pas. As iemand vir my sê ek kan dit nie doen nie, dan wys ek hulle dat ek dit wel kan doen.”
Oor sy verhoognaam, Chris Chameleon, het hy verduidelik dat die verkleurmannetjie-idee ‘n eienskap is waaroor almal beskik.
“Jy is nie dieselfde persoon voor jou pêlle terwyl julle rugby kyk as wat jy voor jou baas by die werk is nie. Almal kan hulself met ‘n verkleurmannetjie vereenselwig.”
Daniela het Vrydagaand saam met Chris opgetree in hul produksie, Posduif.
Sy het vertel sy wou nog altyd mense vermaak en dit is ook die rede waarom sy drama studeer het.
Sy het vertel dat dit wonderlik is vir haar om saam met Chris op te tree. “Hy stel altyd belang en ek leer teen die spoed van wit lig.”



