Olieverf vloei sterk deur René se are
Oppad na haar huis toe ry jy deur 'n rustige buurt met oop velde en wilde bokkies wat rondloop en dit is ook hoe René Bonthuys voorkom; rustig, vriendelik en gesellig.
POLOKWANE – Oppad na haar huis toe ry jy deur ‘n rustige buurt met oop velde en wilde bokkies wat rondloop en dit is ook hoe René Bonthuys voorkom; rustig, vriendelik en gesellig.
Stap jy by René se huis in, kyk jy vas teen pragtige lewensgroot kunswerke, party nog in die kreatiewe proses.
Dit is wat René is, ‘n kunstenaar.
René is getroud met André en hulle het twee seuns.
Sy en haar man woon in Polokwane waar sy haar liefde vir kuns met ander kunstenaars deel deur kuns-klasse aan te bied.
“Ek was in gr. 9 in eMalahleni (Witbank) op skool en kon nie kuns as vak by die skool neem nie. My ma het my vir buitemuurse kunsklasse geneem.”
“Nadat ek en André getroud is, het ek ‘n halfdagpos by ‘n skool gekry en verveeld geraak in die middae. “So het ek weer begin om kunsklasse by te woon.”
Hier het sy by die bekende kunstenaar, Giela du Toit, in eMalahleni geleer.
Later het die paartjie na Pretoria getrek en het sy, saam met ‘n paar vrien-dinne, heen en weer gery om steeds kunsklasse by Giela by te woon.
“Ons het vir 20 jaar in Pretoria gebly en ek het altyd net geskilder. Ek is vreeslik lief daarvoor. Ek het net vir ‘n tyd lank nie geskilder nie terwyl ek my ma versorg het.”
René se ma is later oorlede en kort daarna het haar vriendinne vir haar begin vra om hulle te help met kunstegnieke.
“Ek het besluit om hulle te help en waar ons as ‘n klein groepie van ses vrien-dinne begin het, het ons groepie vinnig gegroei en kort voor lank was ons 20 kunstenaars.”
Later van tyd het hulle weer verhuis, die keer van Pretoria na Polokwane en René vertel dat nog voor sy hier was het sy ‘n vol kuns-klas gehad.
“Dit is lekker om iets te skep en om mense te help om iets te skep.
“Dit is lekker om te sien wat dit vir hulle beteken as hulle mooi goed maak.”
Terwyl ons deur haar huis stap en na al haar en haar studente se kunswerke kyk, vertel sy my dat sy baie lief is daarvoor om met olie te werk.
“Jy kan net soveel meer daarmee doen.
“Maar my studente besluit self waarmee hulle wil werk. Ek het selfs ‘n klas vir kinders.”
Altwee René se seuns is kunssinnig en volg beroepe waar hulle hul liefde vir die kuns kan uitleef.



