Senotaafsaal-klanke
Die Stad van Sterre is ook die tuiste van een van Suid-Afrika se wêreldklas-kore, die Ensemble Esprit-kamerkoor.
POLOKWANE – Die Stad van Sterre is ook die tuiste van een van Suid-Afrika se wêreldklas-kore, die Ensemble Esprit-kamerkoor.
Die naam Ensemble Esprit kom van ‘n Franse musiekterm wat vryvertaal beteken: sangers met geesdrif.
Onder leiding van Jannie Becker het hierdie koor al vele mylpale bereik en naam gemaak as een van die top-kore in die land.
• In 2011 het Ensemble Esprit saam met die PUK-koor onder leiding van prof. Awie van Wyk, in een van sy laaste konserte voor sy aftrede opgetree.
• In 2012 het die koor die Stabat Mater van Rossini uitgevoer saam met ‘n groep internasionale soliste, ‘n universiteitskoor uit Switserland, die PUK-koor en die KwaZulu Natalse Simfonie-orkes.
• Verlede jaar het Ensemble Esprit ‘n Unisa-eksamen vir koorsang afgelê en met lof geslaag. Die koor is ook op Unisa se ererol geplaas.
• Vroeër vanjaar het die koor saam met die wêreldbekende Nederlandse orrelis, Martin Mans, opgetree.
Op 13 September bied Ensemble Esprit ‘n kooruitvoering in die Senotaafsaal van die Voortrekkermonument aan.
By hierdie geleentheid gaan koormusiekliefhebbers die geleentheid kry om Ensemble Esprit sowel as die immergewilde Chamber Singers in konsert te sien. Michael Barret, die Chamber Singers se koorleier, is internasionaal bekend vir sy unieke styl en slag met kore. Hy het onder andere saam met beroemde koorleiers soos Bo Johannson gewerk en die Berlynse Radiokoor afgerig.
Tydens die konsert by die Voortrekkermonument sal Ensemble Esprit en die Chamber Singers ook Sneeuwitjie van die Veld uitvoer. Hierdie gedig van A.G. Visser is deur Awie van Wyk getoonset en vertel die verhaal van Racheltjie de Beer op aangrypende wyse. Die konsert begin om 18:30 en kaartjies kos R100 per persoon.
Saterdag kan Polokwane se inwoners ‘n voorsmakie kry van hierdie optrede wanneer Ensemble Esprit Sneeuwitjie van die Veld sal uitvoer. Die uitvoering sal by die Hervormde Kerk Welgelegen op die hoek van Webster- en Betzstraat plaasvind en begin om 18:30 vir 19:00. Kaartjies kos R100 per persoon en R50 vir laerskoolkinders en pensionarisse.
Kaartjies is beskikbaar by Ans Becker. Skakel haar gerus by 082 457 8171.



