Wessel: kunstenaar met vele talente
Skilderkuns, kalligrafie, gholf, sang en drama is maar net 'n paar van Wessel Cronjé se talente en belangstellings.
POLOKWANE – Skilderkuns, kalligrafie, gholf, sang en drama is maar net ‘n paar van Wessel Cronjé se talente en belangstellings.
Wessel is ‘n onderwyser by die Hoër Tegniese Skool Tom Naudé waar hy skeppende kunste en lewensoriëntering aanbied.
Hy staan aan die hoof van die skool se dramakuns, visuele kunste, sang en musiek.
Hy is ‘n kunstenaar van formaat wat baie graag landskappe skilder.
“Ek het van jongs af baie belangstelling getoon in sketse en sierskrif wat uitermatig netjies en presies uitgevoer is,” vertel hy.
Wessel vertel hy het as laerskoolseun in gr. 5 vir ‘n jaar lank kunsklasse bygewoon in Krugersdorp, waar hy gewoon het.
Sy liefde vir kuns het hom geïnspireer om kuns te kies as sy semi-spesialisering in die tyd wat hy ‘n student was aan die Goudstad Onderwyskollege.
As iemand wat van Suid-Afrika se grootste akteurs afstam, is dit nie vreemd dat uitvoerende kuns Wessel so na aan die hart lê nie.
“My pa, Jan Cronjé, was op sy dag volksbesit. Hy het rolle vertolk in van die eerste Afrikaanse films soos En Die Vonke Spat, Dis Lekker om te Lewe en die immergewilde Kom Saam Vanaand. Hy het ook die bekende radioprogram Só Maak Mens vir 28 jaar saam met Esmé Euvrard aangebied.Sy liefde vir die kunste het in sy kinders gemanifesteer,” vertel hy.
Omdat Wessel so kunssinnig is, het mense dikwels op sy knoppie gedruk wanneer dit gekom het by kultuuraktiwiteite.
“As jong onderwyser was die afrigting van operettes dus maar my voorland. Saam met die toneelinkleding het ek ook die dekor geskilder en baie vervulling hieruit gekry,” vertel hy.
Wessel is ‘n bedrewe kalligrafis.
“Ek beoefen al vir meer as 40 jaar lank kalligrafie. Kunssinnigheid, perfeksionisme en baie geduld is ‘n voorvereiste vir hierdie kunsvorm. Embleme en illuminering is veral baie tydrowend.”
As deel van sy beoefening van hierdie kunsvorm het Wessel al ereburgerskapsertifikate, raadsheerskapsertifikate, eretoekennings en familiewapens omskryf.
Hy sê hy het vyf jaar gelede begin skilder.
“Ek verkies om met akriel te werk en spits my hoofsaaklik toe op natuurtonele.
“My werk is hiper-realisties en selfs die fynste besonderhede gaan nie verlore nie. Ek verkies om op ‘n groter doek te werk.”
Hy is deel van die Ensemble Espirit kamerkoor en hy is baie trots om te vertel dat hy in 2004 in Bloemfontein opgetree het as programmeester van die Applous koorkompetisie.
In Maart 2005 was Wessel een van vier Polokwane-inwoners wat deur ‘n eretoekenning van die ATKV as Afrikoon vereer is vir die diep spore wat hy getrap het in Afrikaanse onderwys en die rol wat hy speel in ‘n verskeidenheid kultuurbedrywighede in die gemeenskap.



