Rocco de Villiers kielie klawers in stad
Verlede Vrydagaand het die gewilde pianis Rocco de Villiers ten bate van die La Wiida Leersentrum, by Bolivia Lodge in die stad opgetree.
POLOKWANE – Verlede Vrydagaand het die gewilde pianis Rocco de Villiers ten bate van die La Wiida Leersentrum, by Bolivia Lodge in die stad opgetree.
Hierdie funksie is ge-reël deur die vroue van die Tafelronde 22 met DDKK Prokureurs as hoofborg.
Sowat 182 mense het die vertoning bygewoon. Die kaartjies het R500 per persoon gekos en ‘n driegang-maaltyd ingesluit.
Die kleurskema was swart en wit, met pêrels, swart en wit vere en maskers as tafelversierings.
De Villiers, geklee in ‘n swart en wit aandpak met ‘n proteapatroon, het die aand begin met ‘n paar grappies voordat hy die gehoor beto-wer het met sy asemrowende, dramatiese uitvoering.
Elke stuk wat De Villiers gespeel het, het ‘n storie gehad wat hy met die gehoor gedeel het.
Die gehoor het sy mu-siek só geniet dat party saggies saamgesing het wanneer hulle die liedjies geken het. Ander het hulle koppe geknik en tone getik op die maat van die musiek.
Die organiseerders het De Villiers bedank vir sy verto-ning met ‘n portret van hom, geskenk deur die Maggi Art gallery van Pretoria.
Na De Villiers se vertoning is die volgende items opgeveil:
• ‘n Skildery van Ginny Kemp;
• Twee geraamde en getekende Blou Bul-rugbytruie;
• Twee DVD’s van Rocco de Villiers;
• ‘n Getekende boek van Nataniel;
• ‘n Naweek by Phalala Lodge;
• ‘n Skildery van een van die leerders van La Wiida Leersentrum;
• ‘n Houtstoel gemaak en versier deur leerders van La Wiida Leersentrum, en
• ‘n houtkassie gemaak en versier deur leerders van La Wiida Leersentrum.
Die veiling het R25 900 vir die leersentrum ingesamel. Sophia Hislop, lid van vroue van Tafelronde 22 het vertel hulle het algeheel sowat R80 000 ingesamel.
“Ons sê baie dankie aan almal wat die aand ondersteun het en ook ‘n spesiale dankie aan Rocco de Villiers vir sy aswemrowende vertoning.
“Ons will ook al ons borge bedank: Funky Franky Exclusive Kids Clothing, Van Onselen Arbeidsterapete, Bodylife Gym, Ambiance, Cleo Haarsalon, Honey Fashion Accessories, Nimue, Head Office Migliio, Ear Institute, Bolivia Lodge, Ginny Kemp, Maggi Art, Nataniel, Rocco de Villiers en Phala Lodge.”



