Annamarie skryf vir kinders omda stories ontwikkeling bevorder
Sy was nog altyd lief vir skryfwerk, maar na Annamarie de Villiers se eersteling se geboorte het die kreatiewe sappe sterker deur haar are begin vloei.
POLOKWANE – Sy was nog altyd lief vir skryfwerk, maar na Annamarie de Villiers se eersteling se geboorte het die kreatiewe sappe sterker deur haar are begin vloei.
Annamarie is ‘n ma van twee en praktiseer as kindersielkundige in die stad.
“Ek het die geleentheid gehad om na Hannah, my oudste kind, se geboorte ‘n kursus vir kinderskryfwerk oor die internet te doen.
“Daarna het Braampie gevolg en ek het onlangs ‘n boekie met vier stories oor Braampie gepubliseer.”
Mens sou wou glo dat al Annamarie se stories ‘n les of boodskap sal hê, maar Annamarie sê dat dit nie die geval is nie.
“Party van die stories wat ek skryf is net vir vermaak. Ek gebruik egter baie stories in my terapie. Ek gebruik tog soms temas uit kinderontwikkeling in my stories.”
Annamarie vertel sy is ‘n oggendmens en skryf graag soggens, maar met ‘n kleuter van vier jaar en ‘n baba van 11 maande is dit soms moeilik.
“Ek is tans in ‘n seisoen waar ek baie met my eie twee kinders te doen het en daarom is dit vir my lekker om stories vir hulle te skryf. Ek sê altyd never say never as mense my vra of ek ooit vir die volwasse mark sal skryf.”
Sy het besluit om vir kinders te skryf aangesien stories goed is vir kinders se ontwikkeling.
“As ouers lees en kinders sien dit of ervaar dit, word ‘n liefde vir lees gebore. Lees en om na stories te luister is goed vir die algehele ontwikkeling van die kind. Dit help met konsentrasie en luistervaardighede. Ouers moet hul kinders aanmoedig om te lees. Lees verbeter ook kinders se woordeskat.”
Annamarie se teikenmark is kinders van drie tot nege jaar. “Ek beoog om ten minste elke ses maande iets nuuts vir ouers te bied in terme van my skryfwerk.



