SA se boereworskoning
Koos van Dyk is onlangs gekroon as die Checkers Championship Boerewors-wenner en Review het met hom gaan gesels.
POLOKWANE – Koos van Dyk is onlangs gekroon as die Checkers Championship Boerewors-wenner en Review het met hom gaan gesels.
“Dit is nie die eerste keer wat ek deelneem aan die kompetisie nie. Ek neem al die afgelope 12 jaar elke jaar deel,” vertel hy.
Hierdie inwoner van Polo-kwane vertel dat hy in 2012 ook ‘n finalis was en verskeie kere in die eerste ronde van die jaarlikse kompetisie gewen het, maar dan in die tweede ronde uitgeval het.
“Omdat ek al soveel keer deelgeneem het en nog nie een keer gewen het nie, het ek nie verwag om te wen nie. Ek het wel, soos elke ander keer, gehoop.”
Koos se wors sal vir ‘n jaar lank as Checkers se Championship-boerewors bemark word.
Hy is al 35 jaar lank in die vleisbedryf en kén sy vleissnitte en boereworsresepte.
Hy wil nou ander mense te help om ook hierdie gesogte kompetisie te wen.
“Dit help nie jy skryf jaar na jaar in met dieselfde resep nie. Jy moet dit verander en aanpas as dit nie gewen het nie. Ek het my resep elke jaar aangepas tot dit na die beoordelaars se smaak was.”
Koos vertel dat dit nie ‘n maklike kompetisie is nie. “Dit is ‘n strawwe kompetisie en al die beoordelaars is sjefs, wat dit nog moeiliker maak.”
Die geheim van Koos se wenresep lê in die feit dat hy goeie kwaliteit vleis en die regte spe-serye gebruik.
Vier van Koos se kinders het ook al deelgeneem aan die Checkers Championship Boerewors-kompetisie en hy is seker noudat hy gewen het sal hulle met groter entoesiasme deelneem in die toekoms.
“Ek het verskeie pryse gewen waaronder ‘n Toyota Hilux 2.7 Double Cab Raised Body Raider, R2 500 in All Gold-kontantgeskenkbewyse, R2 000 in Coca-Cola-geskenkbewyse en R750 in Simba-geskenkbewyse.”
Noudat Koos uiteindelik as Suid-Afrika se boereworskoning gekroon is, wil hy nuwe uitdagings aanpak.



