Blackie Swart kom kyk na talent
Rock Hard Musiekskool se studente sien reikhalsend uit na Saterdag 28 November wanneer vyf van dié musiekskool se studente die geleentheid sal kry om saam met bekende Suid-Afrikaanse kunstenaars op te tree.
POLOKWANE – Rock Hard Musiekskool se studente sien reikhalsend uit na Saterdag 28 November wanneer vyf van dié musiekskool se studente die geleentheid sal kry om saam met bekende Suid-Afrikaanse kunstenaars op te tree.
Bekende musikante Blackie Swart, Denny Lallouette en Vinnie Henrico, sal op 28 November in Polokwane optree en vyf van Rock Hard Musiekskool se studente sal die verhoog met hierdie groot name deel; Anneke Serfontein, Milan Moon, Megan, Nadine Swane-poel en Mia Louw
JP Duvenage, eienaar van Rock Hard Musiekskool, sê hierdie konsert sal as oudisie dien vir die Oppie Beach Rugby- en Musiekfees.
“Blackie Swart is betrokke by hierdie fees en help om die kunstenaars wat daar wil optree te keur,” verduidelik hy.
Die konsert sal by Sterkloop Lapa Pub en Grill plaasvind en Denny en Vinnie sal onderskeidelik op die baskitaar en dromme te sien wees.
Denny is ‘n bekende sessiemusikant en het aan bekende albums soos Bok van Blerk se De La Rey gewerk. Vinnie is ook bekend in musiekkringe en het aan twee van Amanda Strydom se albums gewerk; Briewe Uit Die Suide en Kerse Teen Die Donker.
JP vertel die musiekskool se afsluiting sal die konsert vooruitgaan.
“Rock Hard Musiekskool se afsluiting is van 15:00 tot 17:00 waar ons almal net lekker gaan saam kuier en sing.
“Om 17:30 word die hekke oopgemaak vir die publiek en dan gaan die partytjie behoorlik begin.”
Kaartjies vir die geleentheid kos R100 elk en is by Sterkloop Lapa (079 114 4556) of by JP Duvenage (079 880 0751) beskikbaar.











