EntertainmentLifestyle

Digter op wenpad

Ruda Schoeman is net 12 jaar oud en in gr. 7, maar sy is reeds 'n gepubliseerde digter.

LOUIS TRICHARDT – Ruda Schoeman is net 12 jaar oud en in gr. 7, maar sy is reeds ‘n gepubliseerde digter.

Twee van Ruda se gedigte is onlangs opgeneem in die Stemme uit die Suiderland 9-digbundel wat op 1 November tydens ‘n glansgeleentheid in die Willie Marais Afrika-nersentrum in Pretoria bekendgestel is. Hierdie bundel word uitgegee deur die Genootskap vir die Handhawing van Afrikaans (GHA).

Die GHA is ‘n organisasie wat daarop ingestel is om die Afrikaanse taal te bevorder en is soortgelyk aan die ouer en bekender orga-nisasie, die ATKV. Net soos die ATKV, loods die GHA jaarliks vele kompetisies en projekte om die taal te bevorder.

“Digters kan soveel gedigte as wat hulle wil instuur, solank dit hul eie werk is. Die kompetisie is vir amateurs en die doel daarvan is om hierdie digters aan te moedig om aan te hou skryf. ‘n Paneel van professionele kundiges wat die gedigte beoordeel besluit watter gedigte goed genoeg is om in die bundel te verskyn. Elke jaar kies hulle ook ‘n wenner en naaswenner in elke kategorie,” verduidelik Johensia Meiring, Ruda se ma.

“Verlede jaar het ek twee van Ruda se gedigte ingestuur, waarvan een in Stemme uit die Suiderland 8 opgeneem is. Sy het toe geen toekenning ontvang nie. Hierdie jaar het ek weer twee van haar gedigte ingeskryf, en toe wen sy die tweede prys in die laerskole-kategorie,” sê Johensia.

Ruda het twee gedigte geskryf, Donderwolk en Die Laaste Rit.

“Hierdie jaar was een van die kompetisie-temas die boererebellie van 1914. Dis waarom Ruda die gedig geskryf het wat handel oor genl. De la Rey, Die Laaste Rit,” sê Johensia.

Donderwolk

‘n Stormwind deur die sitkamer,

verspreide donderbuie met ontbyt.

“Jou broer is weer in een van sy buie”, sê ma,

“Los hom liewer uit!”

Vanoggend ignoreer hy eers almal,

En kyk ons so kil aan soos ‘n kouefront.

Dan bars daar ‘n wilde woeste orkaan los,

en tref Bruno, ons arme ou hond.

Ek wip van die skrik,

toe iets klink soos donderweer.

Maar wees gerus,

dis net sy kamerdeur.

Ewe skielik bars sy deur oop,

toe die trane van sy gesig afloop.

Hy nael in die gang af soos ‘n blits,

want Moeder het hom geklits.

Later die aand toe ek wil gaan bad,

kom ek in die badkamer en alles was nat!

Dit lyk asof ‘n tsunami die plek oorspoel het,

die sondebok lê reeds warm en knus in die bed.

Die weer was vandag wild en ontstuimig,

Maar elke donker wolk het ‘n silwer randjie.

Ons moet net hoop dat dit more darem,

gaan wees: mooiweer, sonskyn en warm.

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button