MG onthul verpersoonlike ontwerpkonsep vir MG3-reeks
DIE jongste ontwerpkonsep van die nuwe MG3 supermini wat in Augustus in Suid-Afrika bekend gestel is, is verlede maand as deel van die Londense Ontwerpersweek by Superbrands in Londen ten toon gestel.
DIE jongste ontwerpkonsep van die nuwe MG3 supermini wat in Augustus in Suid-Afrika bekend gestel is, is verlede maand as deel van die Londense Ontwerpersweek by Superbrands in Londen ten toon gestel.
Die konsepmodel, wat deur die MG-ontwerper Louise Thorburn geskep is, het hom by die jongste MG3-verpersoonlikingsreeks aangesluit. Kopers van die MG3 kan hul eie persoonlike ontwerp sowel as ’n string bybehore vir hul motor kies.
“Hoewel die volledige reeks van tot een miljoen kombinasies nie noodwendig vir Suid-Afrikaanse kopers se smaak is nie, kan kopers van die nuwe MG3 hul motor op só manier verpersoonlik dat dit vir alle praktiese doeleindes absoluut uniek op Suid-Afrika se paaie sal wees,” sê MG Suid-Afrika se hoofbestuurder vir CMH Brands, Derrick Bishop.
Al die bestaande keuses kan op die MG3-webblad by www.mg.co.uk/mg3/configurator gesien word.
Die MG3, wat ’n jaar ná sy wêreldbekendstelling in Suid-Afrika bekend gestel is, slaan munt uit uitstaande kajuit- en bagasiebakruimte, die beste vering- en rydinamika in sy klas, en omvattende toerusting as deel van sy standaard-toerusting.
Die vlagskip-model, die MG3 STYLE, is teen R179 900 bekend gestel. Nog twee modelle, die middelreeks-MG3 WIRED teen ongeveer R165 000, en die intreevlak-MG3, teen nagenoeg R145 000, word aanstaande maand in plaaslike handelaarskappe verwag. Pryse is onderhewig aan wisselkoerse.
Meer as 280 maatskappye van 29 lande was vanjaar by Superbrands teenwoordig.



