EntertainmentLifestyle

Jakkie bel vir Henda met baie woorde

Nie eers die reën kon Henda Nel se vriende en familie keer om verlede Vrydagaand by Dag-Ga Boys Pub & Grill bymekaar te kom om vir Jakkie Louw te sien optree nie.

POLOKWANE – Nie eers die reën kon Henda Nel se vriende en familie keer om verlede Vrydagaand by Dag-Ga Boys Pub & Grill bymekaar te kom om vir Jakkie Louw te sien optree nie.

Jakkie is bekend vir liedjies soos Drie Pikkewyne en Een Miljoen Woorde. “Een Miljoen Woorde het ek geskryf nadat een van my vriende vir my vertel het dat sy meisie in die hospitaal opgeneem is en dat hy ophou drink het om haar te ondersteun,” vertel Jakkie waar hy op die verhoog staan. “Vanaand wil ek hê almal moet hulle selfoon of sigaretaanstekers se liggies vir Henda laat skyn.”

‘n Vriendin van Henda, Odene Fenner, het besluit om ‘n liefdadigheidskonsert te hou wat kon bydra tot Henda se mediese onkoste.

Sy is tans in Pretoria waar sy in die proses is om ‘n beenmurgoorplanting te kry. Henda is verlede jaar met limfoblastiese T-selleukemie gediagnoseer. Jakkie het vir Sandra Lubbe, Henda se ma, gevra om vir Henda in die hospitaal te bel sodat sy kan hoor hoe hy, spesiaal vir haar, Een Miljoen Woorde sing. Trane het oor gaste se wange geloop tydens die sing van die liedjie.

“Dit was regtig vir my baie spesiaal. Die feit dat dit kort voor die optrede opgehou het, veral met die reën wat so val, is ook vir my ‘n wonderwerk,” vertel Henda vanuit haar hospitaalbed. Odene vertel dat sy vir Jakkie gekontak het en dat hy bereid was om gratis te kom optree. Hulle moes net sy vervoer en verblyf betaal en reël dat iemand die klank behartig.

“Ek tree in gevalle soos hierdie baie keer gratis op. Ek hou gemiddeld 12 gratis optedes vir Kansa per jaar. As ‘n mens nie iets goed kan doen vir iemand wat jy nie ken nie, waarvoor lewe jy dan?” het Jakkie kort voor sy optrede aan Review gesê.

Talle borge het bygedra tot die geleentheid: Dag-Ga Boys Pub & Grill het al die kaartjies verkoop en hulle perseel gratis beskikbaar gestel. Ook het Woodstuff Limpopo, Vleislapa Welgelegen, Superspar Platinumpark en Pick n Pay Cycad bygedra. Aggie Ströh en Lelané en Christo van der Merwe het ook bydraes gemaak.

“Ons is almal dankbaar teenoor elke persoon wat die aand ‘n sukses gemaak het,” het Sandra na afloop van die geleentheid gesê.

(MEER FOTO’S)

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button