Verkoop jy nou, of wag vir prysstyging en ‘n groter wins?
Met die verbetering in die eiendomsmark en pryse wat begin styg, wonder talle huiseienaars of hulle nou moet verkoop of moet wag dat pryse verder styg sodat hulle meer vir hul eiendom kan kry.
Met die verbetering in die eiendomsmark en pryse wat begin styg, wonder talle huiseienaars of hulle nou moet verkoop of moet wag dat pryse verder styg sodat hulle meer vir hul eiendom kan kry.
Dis ‘n strikvraag maar, sê Berry Everitt, besturende direkteur van die Chas Everitt International-eiendomsgroep, die besluit om eiendom te verkoop behoort nooit uitsluitlik op ‘n poging om teen die hoogste prys te verkoop te berus nie.
“Dis moeilik om die tydsberekening reg te kry en eie-naars moet ook die ‘geleentheidskoste’ om in ‘n huis wat nie meer aan hul behoeftes voldoen of waar hulle nie meer wil woon nie, in gedagte hou.”
Hy sê as eienaars wag tot pryse verder styg is dit baie waarskynlik dat die prys van ‘n nuwe eiendom ook hoër gaan wees terwyl daar ‘n risiko is dat rentekoerse in die tussentyd styg.
“En in so ‘n geval sal hulle waarskynlik enige bykomende bedrag uit die verkoop van hul bestaande eiendom moet gebruik om ‘n nuwe huis te koop en straks hoër maandelikse verbandbetalings moet maak.”
As die rede waarom hulle wou verkoop boonop was om na ‘n huis of woonbuurt te verhuis wat beter by hul of hul
gesinne se behoeftes sou pas, sou dit ook beteken dat hulle voordele soos byvoorbeeld korter pendeltyd, beter skole of ‘n beter leefstyl op die lange baan skuif, sê hy.
“Een uitweg is natuurlik dat hulle die bestaande eiendom verhuur terwyl hulle ‘n nuwe huis koop en wag dat pryse styg voordat hulle verkoop, maar banke mag moontlik nie tegemoetkomend wees om ‘n tweede lening toe te staan nie (selfs al dek die huurinkomste een verband) en eienaars moet in so ‘n geval ook die onderhoudskoste en grondbelasting van twee eiendomme in berekening bring.”
Everitt skryf in die nuusbrief, Property Signposts, dat mense wat op die punt staan om eiendom te verkoop ook die rigting wat die eiendomsmark na verwagting oor die volgende jaar of twee gaan inslaan in gedagte moet hou.
Een van die belangrikste faktore wat nou oorweging verdien is dat eienaars wat sedert die markinsinking negatiewe ekwiteit in hul eiendom gehou het, nou deur stygende pryse bevoordeel word – en talle staan nou waarskynlik reg om so gou moontlik te verkoop.
Dit sal natuurlik die voorraad huise te koop – wat die afgelope paar maande skraps was – stut en dit sal groei in pryse laat verlangsaam, selfs al bly vraag op die heersende hoë vlakke, meen Everitt.
Nuwe ontwikkelings sal voorraadvlakke verder stut en vraag sal as ‘n gevolg hiervan waarskynlik daal indien rente-koerse weer begin styg.
“In die geheel gesien is die antwoord vir eienaars wat wil verkoop dus dat as daar positiewe ekwiteit in jou bestaande eiendom is behoort jy die kans te benut om jou eiendom nou te verkoop en jou nuwe huis teen heersende pryse en rentekoerse te koop,” het Everitt geskryf.



