Eksklusief: Maritz se VF+ keuse
Sy vertel vandeesweek openhartig aan Bosveld waarom sy nou haar bekende blou DA T-hemde verruil het vir die donker groen van die VF+.
MOKOPANE – Marcelle Maritz was die afgelope week in die spervuur oor haar oorstappery na die Vryheidsfront Plus (VF+) en die tonge het weer geklap. Sy vertel vandeesweek openhartig aan Bosveld waarom sy nou haar bekende blou DA T-hemde verruil het vir die donker groen van die VF+.
Wie is Marcelle Maritz?
Ek is hier gebore en getoë en in 2011 gekies as raadslid van wyk 32 vir die DA. Dit is in wyk 32 wat ek my kiesersbasis opgebou het en goeie dienslewering voorstaan. Ek het met hart en siel vir die DA gewerk, maar die afgelope jaar het daar probleme ontstaan.
Waar het al die onmin begin?
Dit het begin met die binnegevegte in die munisipaliteit en ek en Beyers Smit, LP van die DA in Limpopo, het meningsverskille hieroor gehad. Die kommunikasieprobleme tussen my en hom het al hoe groter geword. Die probleme het verder gesneeubal toe Beyers vir Delene Pelser intrek en my na wyk 31 wou skuif in die 2016 verkiesing. Ek was nie gelukkig daarmee nie. Wyk 31 is ‘n gekompliseerde wyk en ek wou bly waar ek is en waar ek my kiesersbasis opgebou het.
‘n Vergadering is in Februarie by The Honeyball belê tussen my, Beyers en Gido de Mendonca van die Arende Bergwag waar Beyers bevestig het dat hy my na wyk 31 wil skuif en Gido in wyk 12. Ek wou nie die party verlaat nie en daarna volg ‘n vergadering met die leierskorps van die DA in Limpopo, die Mokopane Besigheidskamer, individuele sakemanne, en die Valke en Arende Bergwag om te kyk of ons die probleme tussen my en Beyers kon oplos. Dit het nie gebeur nie en klagtes het op dowe ore geval. Ek het my besware aan die federale voorsitter van die DA gestuur en daar is nie teruggekom hieroor nie. Ek het daaraan begin dink om van party te verwissel en dit sou verseker ‘n regse skuif wees, gesien ek ‘n oud-HNP voorstaander is. Die Vryheidsfront Front Plus (VF+) is daar vir die minderheidsgroepe. Ek is trots blank, trots op my taal en my godsdiens.
En toe volg die gewraakte k-woord wat jy glo geuiter het.
Ek is nie ‘n rassis nie. Selfs die ANC het my genader om by hulle aan te sluit en die Mogalakwena Residents Association wou hê ek moes hulle gesig word. Dit was ‘n geval van woord teen woord en die DA se dissiplinêre voorsitter het voorgestel dat dit nie in belang van die party sal wees om die klagte verder te voer nie. My raad hier is om eers die balk uit jou eie oog te haal voordat jy die splinter in myne wil uithaal.
Het die DA jou geskors?
Ek is nie geskors nie. Ek kan wel bevestig dat Corinus du Toit, rubriekskrywer van Bosveld, op 31 Augustus net na ses namiddag ‘n brief van die DA by my hek afgelewer het nadat dit uitgelek het dat ek op 1 September na die VF+ gaan oorstap, die beste besluit wat ek nog in my politieke loopbaan geneem het. Die kennisgewing lui dat ek twaalf ure gegun word om appél aan te teken waarom my lidmaatskap by die DA nie onmiddelik gestaak moet word nie. Ek het voor die tyd verstreke is vir hulle my bedanking per e-pos gestuur.
Wanneer het jy die VF+ genader?
Ek was onseker waar ek was en het vroeg in die jaar ondersoek ingestel. Ek het so drie weke terug finaal besluit dit is waar ek wil wees. Ek is nou die provinsiale organiseerder van die party in Limpopo. Dat ek vir die VF+ gaan werk teen ‘n vergoeding is nie ‘n leuen nie en ek het hulle genader want die DA is duidelik nie die party vir my nie. Ek het nie gevlug oor die beweerde K-woord of enige sogenaamde reëls of oortredings nie. Ek gaan nog steeds diens lewer waar dit nodig is en kospakkies uitdeel om my plek vol te staan in die gemeenskap.
Het jy na die ANC gevry soos beweer word?
Ek kan met eerlikheid sê ek het baie nou saam een deel van die ANC gewerk, die groep wat korrupsie saam my beveg het, Ja, poste is my aangebied by die ANC en MRA, maar ek het nooit om hulle tafel gesit en onderhandel nie.
En na alles kondig die DA luidskeels aan dat 1 000 ANC kiesers en raadslede van Mogalakwena en vanoor Limpopo na hulle oorgeloop het, nogal ‘n gedagte…
Jy word daarvan beskuldig dat jy jouself heeltyd bemark.
Deur selfbemarking word die publiek ingelig oor lede se doen en late, wys jou hoe min het die ander DA raadslede in die dorp gedoen. Ek was nog nooit op ‘n “incapacity training” van die DA nie.
Jou mededeling aan Du Toit dat jy nie enige onderhandelinge met die VF+ gehad het oor ‘n oorstappery nie, het dit gebeur?
Ja, ek ek het my onderhandelinge met die VF+ aan hom ontken. Ek het nie gedink dit is iets wat ek in daardie stadium met hom vooraf sou wou bespreek nie. Ek het tong in die kies met hom gedeel dat die ANC en MRA my genader het om by hulle aan te sluit.
Wat is jou boodskap aan die inwoners van Mokopane?
Ek is beskikbaar vir almal in die 2016 verkiesing. Sou ek nie staan in die tussenverkiesing, maak dit nie saak nie.
Ek maak steeds staat op die gemeenskap se steun in 2016. Die blou T-hemp het nie die werk gedoen nie, dit was die persoon in die hemp. Ek dien steeds die gemeenskap soos altyd.
Lees meer:
Maritz nou ‘n nuwe lid van VF+




