Gesoute musiekman kom wys sy slag by Kerssangdiens op 8 Nov

Fanie Du Plessis met sy besondere instrumente gaan op Sondag, 8 November, deel wees van die Kerssangdiens van die N.G. Oos-gemeente met die tema '1915 Kersfees'

“IN elke dorp in die wêreld leef en werk daar legendes op soveel diverse gebiede. Soms weet mens van hulle en soms, net soms leef hulle buite die grense van jou bekendheid. Een so ‘n persoon het op ‘n vreemde wyse op my pad gekom, oom Fanie du Plessis.”

Emilige Schröder vertel jare gelede is Du Plessis ” al gekroon” as die beste mondfluitjiespeler in Suid-Afrika, en tans sover bekend, die enigste persoon in die land wat nog in staat is om die uitdagende vyf ry duet konsertina te bespeel.

Schröder deel met groot bewondering staaltjies uit Du Plessis se lewe met Bosveld.

“Op 74-jarige ouderom het Du Plessis nog steeds die durf en lekkerlag van die jongman wat ‘n klompie maande nadat hy sy eerste mondfluitjie as skoolseun gekoop het en met sy ouers se grammafoonplate saamgespeel het – besluit het, hy wil ook ‘n plaat maak.

Na moeilike kommunikasie met die “Ingelse” dame by Gallo records in Johannesburg, het hy met net die belofte van ‘n “appointment” die volgende dag, met groot moeite uiteindelik per melklorrie, met net sy mondfluitjie en ‘n paar sent, in sy sak, in Johannesburg aangekom.

By Presidentstraat 161, het Gallo se grootbaas, Ernie Goldblat, hom probeer afskrik met: “You are wasting my time”.

Met niks om te verloor nie, en die grootmoedigheid van die jeug, aan sy kant, het hy vasgestaan, en uiteindelik het Goldblat gesê: “Give the man a chance!” Teen twee uur die middag was hy darem danksy Eddie Wyngaard, op die agste verdieping waar opnames volstoom aan die gang was. Dieselfde middag nog, binne slegs een uur se perfekte opnames, is ‘n hele langspeelplaat opgeneem. Dit was ‘n rekord, asook die eerste keer in sy lewe dat hy met ‘n orkes saamgespeel het.

Groot name in die bedryf soos Dan Hill, Danie Barnard en Ken du Plessis kon nie glo dat hierdie seun soveel durf en talent het nie en so begin sy musiekreis. Eers was dit mondfluitjie en later die konsertina.

In 1964 en 1965 het hy met baie groot sukses ook aan mondfluitjie kompetisies in Duitsland deelgeneem. Honer in Duitsland is die bakermat van mondfluitjies.

Die Hartswater boere-orkes het ‘n uiters bekende naam in die boermusiekkringe geword. Du Plessis het ook aan konserte op uiteenlopende plekke deelgeneem, van die Sand du Plessis teater in Bloemfontein, tot Koffiehuiskonserte saam met Nico Carstens op televisie. Deur die jare is daar ook geweldig baie komposisies deur Du Plessis geskryf . Dit alles vir iemand wat homself leer speel het!”

Du Plessis met sy besondere instrumente gaan op Sondag, 8 November, deel wees van die Kerssangdiens van die N.G. Oos-gemeente met die tema ‘1915 Kersfees’. Met die sangdiens word daar gefokus hoe die mense gevoel het na die eerste groot mynstaking van 1912, die Eerste Wêreldoorlog, die rebellie en dit alles nog in die rou wonde van die Anglo Boereoorlog.

Daar gaan nostalgies geraak word met ou wysies, hallelujas en Voortrekkergesange. Kom hoor hoe dit weer in die gedagtewêreld weerklink en kom sing met oorgawe saam met die kerkorrel en konsertina. Om die gemeenskap verder te bederf, gaan daar ook op Fanie se serfyntjie wat uit 1864 dateer, gespeel word.

“Duetkonsertinas is ontwerp om in simfonieorkeste te gebruik. Anders as met die drie ry konsertinas, word individuele note gespeel en dit gee ‘n baie besonderse klank, maar is ook uiters moeilik om te bespeel,” verduidelik Schröder.

Du Plessis gaan dié Kerssangaand op ‘n hoë noot om 18:00 met ‘n duetkonsertina open.

 

 

 

 

For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter
For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button