Chantalle Stevens regstelling is die sleutel

"Om emosionele regstelling aan 'n klaer te gee deur dinge reg te stel wat verkeerd gegaan het."

POLOKWANE – “Om emosionele regstelling aan ‘n klaer te gee deur dinge reg te stel wat verkeerd gegaan het.”

Dít sê Chantalle Stevens, verskaf aan haar die grootste vreugde in haar werk.

Stevens is die waarnemende beheeraanklaer in die Polokwane Distrikshof en is ook aanklaer in die Mankweng Streekhof.

Dié oudleerder van Westenburg Sekondêre Skool wie in 1994 gematrikuleer het, het ‘n beurs van die Departement van Justisie ontvang en in 1995 begin regte studeer aan die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa).

Deel van haar beursvoorwaardes was dat sy by die departement moes werk terwyl sy studeer waarvoor sy ook ‘n salaris ontvang het.

Stevens het in 1995 na Pretoria verhuis en daar haar studies voltooi terwyl sy vir die departement gewerk het. In 2012 het Stevens aansoek gedoen vir ‘n oorplasing na Polokwane want haar ouers woon hier.

“Ek onthou my heel eerste keer in die strafhof soos gister. Dit was baie senutergend. Ek het voor landdros Marion Wessels, verskyn. Ek het nie die klagstaat ingevul nie. Die landdros het na my gekyk en gesê: ‘vind uit hoe om dit in te vul’, en toe die hof verdaag,” vertel Stevens.

Gevra wat is die grootste uitdaging in haar werk, verduidelik Stevens die misdaad wat toeneem. Boonop voel dit somtyds of hulle nie die stryd teen misdaad wen nie.

“Logistiek is ook ‘n groot uitdaging nadat die Polokwane Landdroshof afgebrand het. Maar ek oorkom hierdie uitdagings deur positief te bly en dit een dag op ‘n slag aan te vat.

“Ek het ook ‘n wonderlike familie – my ouers, broers, susters en kinders wie my almal ondersteun. Na ‘n lang dag by die werk is dit vir my lekker om huis toe te gaan en al my aandag aan my kinders te gee, want hulle bring vir my soveel geluk,” sê dié pleegma van twee dogters.

Stevens sê die moeilikste saak wat sy tot dusver moes hanteer was dié van ‘n man wie sy twee dogters verkrag het.

“Die man het twee susters uit ‘n gebroke familie aangeneem en hulle toe gemolesteer en verkrag. Die kinders was baie klein toe hy hulle aangeneem het en die voorvalle het eers aan die lig gekom toe die kinders tussen agt en nege jaar oud was. Die man is skuldig bevind en gevonnis,” vertel Stevens.

Sy voeg by haar mees onvergeetlike en aangrypendste saak as staatsaanklaer was die een van Elias Mothate.

Mothate het R30 van ‘n sewejarige seuntjie van Pretoria gesteel en die kind se ma voor hom met ‘n tuinvurk gesteek en haar later ontvoer en verkrag. Hy is lewenslank tronkstraf plus 36 jaar opgelê, wat gesamentlik uitgedien moet word. Hy is ook 20 jaar tronkstraf op ‘n aanklag van roof met verswarende omstandighede gevonnis en ‘n jaar tronkstraf vir die R30 wat hy van die klaer se seun gesteel het.

“Die man het die vrou aanhoudend gevra vir geld en sy het vir hom gesê sy het nie geld nie. Hy het haar toe aanhoudend met die tuinvurk gesteek en dis toe dat die kind sy geld aan die man gebied het.

“Mothane is nog 15 jaar opgelê op die aanklagte van ontvoering en poging tot moord. Die lewenslange vonnis was weens die verkragting wat met die toediening van ernstige liggaamlike leed gepaardgegaan het,” verduidelik Stevens.

Sy vertel Mothane is na hierdie saak ook met ander misdaadsake verbind.

Volgens Stevens word sy gemotiveer deur die beginsels waarmee haar ouers haar grootgemaak het.

“My ouers het altyd gesê, as jy iets doen moet jy dit voluit tot die einde en met integriteit doen.”

Om te ontspan spandeer sy graag tyd saam met haar familie, of kuier met vriende. Sy hou ook baie van skryf, skets, skilder en om te reis.

Haar doelwit en ideaal is om eendag as atvokaat in die Hooggeregshof te verskyn, erken Stevens.

For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter
For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button