Ope waters is waar Sulé blom

Sulé van der Merwe, die talentvolle swemmer van Eagar Aquatics Swemklub, spog trots met die goue medalje wat sy onlangs in Johannesburg by die Lake Heritage Water Fees opewaterswembyeenkoms in die Heia Safari Ranch verower het

POLOKWANE – Hierdie medalje is die nuutste toevoeging tot die reeks ander medaljes wat boekdele van haar talent spreek.

Dié 17-jarige leerder aan Hoërskool Pietersburg, sê haar passie vir dié sport kom reeds sedert haar laerskooldae, maar dat sy werklik eers vir die laaste vyf jaar professioneel afgerig word deur Dougie Eagar. Sy voeg by sy het ‘n liefde vir opewaterswem en geniet dit om aan langafstandswembyeenkomste deel te neem eerder as in ‘n swembad.

Haar voorkeur vir langafstandswem het sy weereens bewys toe sy op 23 Januarie haar teenstanders in die afdeling vir vroueswemmers 14 tot 30 jaar oud met haar swemvernuf gefnuik het.

Nie net is sy die eerste vroueswemmer nie, maar is ook die eerste wat sesde algeheel van al die deelnemende swemmers oor die eindpunt was. Sy wen die vroueafdeling in ‘n tyd van 01:08:42. Haar naaste teenstander, Ayesha Vall, se tweedeplektyd is 01:16:54, sowat agt minute stadiger as die wentyd.

Die 5 km afstand is oor vier rondes voltooi.

Van der Merwe se tye vir die vier rondes wat dan haar algehele tyd bepaal is:

• Ronde 1 – 00:16:00

• Ronde 2 – 00:16:58

• Ronde 3 – 00:17:51

• Ronde 4 – 00:17:52.

Met hierdie prestasie kwalifiseer sy vir die Suid-Afrikaanse Opewaterkampioenskap wat in Maart in Grabouw in die Wes-Kaap gehou word.

“Swem neem ‘n groot deel van my tyd in so saam met die skoolwerk, maar dit bring my nie van stryk nie. Tussendeur as ek kans kry neem ek ook aan landloop deel om fiks te bly, maar andersins is swem my grootste tydverdryf,” sê sy.

Sulé se mikpunt is om vir die Suid-Afrikaanse Swemspan in aanmerking te kom of selfs vir die Olimpiese Span, wat volgens haar ‘n absolute hoogtepunt in haar swemloopbaan sal wees.

“Om mededingend te swem is harde werk. Ek swem ses dae ‘n week en rus slegs op Sondae.

“Ek swem gemiddeld 10 km per dag. ‘n Mens moet ondanks die harde werk nooit opgee nie en aanhou om in jouself te glo,” sê sy vasbeslote.

Is daar tye wanneer hierdie passie haar dalk beproef?

“Dis vir my die moeilikste om in die winter te oefen. Dan is dit soggens donker en koud. Maar dit stuit beslis nie my passie vir swem nie.”

In hul poging om soepel en fikser te word, vertel Sulé, het sy en van haar medeswemmers by die klub onlangs ook aan Crossfit begin deelneem.

En, waarmee hou sy haarself in haar vrye tyd besig?

“Tussen my skoolwerk en swem deur is daar maar min tyd oor, maar ek geniet die swem voluit.”

 

 

For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter
For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button