Ken jou beroep!
REDAKTEUR SE INK: Na 'n besige tyd met talle nuusgebeure wat ons aan die hardloop gehad het, is dit vandeesweek skielik tjoepstil in Mokopane.
Ons hoor nie van skelms wat vasgetrek word nie en ook nie van ‘n slag of tyding van enige ongeluk nie. Die verskeie politieke partye is darem hard aan die werk om kiesers te werf met die oog op die Munisipale verkiesing op 3 Augustus.
By Hoërskool Piet Potgieter het ‘n doodse stilte neergedaal want die leerders is besig met eksamen. Met ‘n kind in gr. 11 besef ek skielik hoe belangrik dit is dat jou kind betyds begin ondersoek instel na wat hy na matriek gaan doen.
Tydens ‘n onlange opedag by die Universiteit van Pretoria is die loopbaankeuses legio, maar dit is belangrik dat jou kind betyds moet kyk of hy die regte vakke het vir toelating en wat al die vereistes is vir keuring. Daar is ook talle aanlyn vraelyste wat die verskeie universiteite het waar jy kan bepaal in watter rigting jy ‘n aanleg het.
Om die regte keuse te maak voor jy gaan studeer is belangrik, want dit is waarmee jy eendag jouself mee daagliks gaan ophou. Volgens navorsing deur SA Good News is die hoogsbetaalde loopbane vanjaar: sagteware ingenieurs, loodse, prokureurs. IT bestuurders, petroleum ingenieurs, lugverkeerbeheerders, geoktrooieerde rekenmeesters, aktuarisse en spesialis dokters. Loopbane waar werkers die minste verdien sluit onder meer in dié van ‘n houtkappers, kassiere, huurmotorbestuurders en ook administratiewe personeel.
Die Departement van Binnelandse Sake het onlangs bekend gemaak dat mediese dokters, ingenieurs, sagteware ontwikkelaars en verpleegpersoneel beroepe is wat in die land in aanvraag is. Dit is dus ‘n goeie keuse om in hierdie rigtings te gaan studeer, want daar is genoeg werk beskikbaar.
Terwyl ons hier by Bosveld met ons joernalistieke en bemarkingsvaardighede woel, beplan ons om in Oktober vir die skoner geslag ‘n heerlike vroue-oggend te hou, want daar is nie baie sulke geleenthede op die dorp nie.
Twee jaar gelede het Bosveld ‘n pretoggend in die Pierneefsaal gehou tydens die KierieklapperKunstefees wat ‘n reuse sukses was. Vanjaar beplan ons ‘n stylvolle somersgeleentheid in die tuinarea van ons hoofborg, Park Hotel. Daar sal top vermaak en ook lekker pryse wees wat gewen kan word.
Die tema-oggend gaan ook die vroue kans gee om nie net hulle tafels mooi te dek nie, maar ook om hulself in stylvolle vere te tooi. Hou gerus ons koerante vorentoe dop vir al die nadere besonderhede.



