Obaro help om jeug te ontwikkel
OBARO glo daarin om die jeug aan die hand te vat en hulle te help ontwikkel met verskeie projekte en inisiatiewe.

MOKOPANE – Die maatskappy bied internskappe vir gr. 11-leerders tot bestuurderleerlingskappe vir gradueerders.
Die maatskappy sê in ‘n verklaring die enigste manier hoe die jeug vir die toekoms voorberei kan word, is om hulle aan die hand te vat en in ontwikkeling te ondersteun. Die Obaro Groep het verskeie projekte en inisiatiewe wat jongmense ophef en hulle ondersteun om ‘n blink toekoms te bou. Daar is internskappe vir gr. 11-leerders tot bestuurderleerlingskappe vir gegradueerders. Obaro maak dit maklik vir die jeug om die arbeidsmag te betree, veral in ‘n tyd waar werkgewers meer-en-meer van hul intreevlakpersoneel verwag. Tydens Obaro se landbouskole internskapprogram, word gr.11-leerders die geleentheid gebied om vakansietye by Obaro Brits of Magaliesburg-handelswinkels te werk.
Met Obaro se bestuurder-leerlingskapprogram werk gegradueerdes sommer direk onder die bestuur. Albei programme bied die kandidate waardevolle kennis van die landboubedryf, waardevolle werksondervinding, ‘n voorsprong in die arbeidsmark, sekerheid oor loopbaankeuse, kontakte, praktiese toepassing van klaskamerkennis en selfvertroue in ‘n werksomgewing.
Gegradueerdes wat vir Obaro se leerlingskapprogram gekies word, ontvang selfs ‘n NQF5 in algemene bestuur.”Obaro se bestuurderleerlingskapprogram het vir my ontsettend baie beteken, nie net vir my persoonlike groei nie, maar ook as ‘n bestuurder.
Die kennis wat ek van die verskeie aspekte van ‘n besigheid opgetel het, is prysloos en is die platform waarop my loopbaan gebou is,” sê Franja van Heerden oor dié program. Sy is tans die besigheidsbestuurder van Obaro in Mokopane.



