EntertainmentLifestyle

Kaleidoskoop kom kuier in Mokopane

Laat die duo se stemme jou onder die sterrehemel bekoor by die RET sentrum op die hoek van Fourie- en Geyserstraat

MOKOPANE – “Agter slot en grendel vasgevang deur die tralies van die stad bly ek na jou verlang. Daar is ‘n kronkelpad waarna my hart so smag, hierdie stofpad kronkel, hierdie plattelandse prag stap ek kaalvoet deur die ongerepte land. Jy is my mede-reisgenoot kom vat my hand.”

Hierdie is ‘n frase vanuit die talentvolle akoestiese musiekgroep, Kaleidoskoop, se nuwe enkelsnit, Wegbreek.

Nie net kry hulle dit al reg om vir die laaste dekade die harte van musiekliefhebbers regoor die land te verower nie, maar hulle deel ook die passie van Bosveld se lesers vir die platteland en kom op 21 April in Mokopane kuier. Laat die duo se stemme jou onder die sterrehemel bekoor by die RET sentrum op die hoek van Fourie- en Geyserstraat

Hulle album, Wegbreek, was ‘n gesamentlike poging deur stigterslid, Jouba Jordaan en mede-komponis, Christiaan Baartman. Beide is van die platteland, vandaar die verlange na die plaas en die klein dorpies.

“Ons mis die eenvoud en rustigheid van die lewe in die platteland, dus gaan die liedjie daaroor om nuwe perspektief te gaan vind. Dit verwoord wat in ons harte aangaan as die tye in die stad te lank raak. Die lirieke van die lied sal nostalgie aanwakker in enigeen wat spore van avontuurlustigheid in sy are het… wat maar by ons almal ingebore is, maar soms dormant lê. Mense moet dit luister om die vakansiegees aan te wakker en om net weer ‘n voorsmakie te kry van hoe dit voel as die son warm aan jou vel kleef.”

Jordaan, die stigterslid, liedjieskrywer en komponis kom van ‘n baie klein dorpie, Kremetart, naby die Krugerwildtuin en het BSc Wingerd- en Wynkunde aan die Universiteit van Stellenbosch studeer. Sy liefde vir musiek het vlam gevat toe hy gedurende sy koshuisjare vir die eerste keer iemand in lewende lywe sien kitaarspeel het, wat hom laat besluit het om sy eerste kitaar te koop. Daarna was hy verlief en verlore. In sy derde jaar op Stellenbosch het hy besluit om sy rugbystewels op te hang om die mooi musiekwoud te bewandel, ‘n ongelooflike avontuur wat hom gelei het tot waar hy nou is.

Anique Jordaan is die talentvolle medesanger. Sy speel ook die klawerbord en trekklavier. Hierdie sielvolle sanger het reeds op 11-jarige ouderdom haar balletskoene verruil vir sanglesse en spog met ‘n Unisa Gr 7-kwalifikasie in klavier agter haar naam. Sy het ‘n BSc in menslike lewenswetenskappe, asook ‘n honneursgraad in fisiologie aan die Universiteit van Stellenbosch verwerf.

Buiten vir die talle benoemings, toekennings en radiotreffers op hulle kerfstok, geniet die sangpaar se musiekvideo’s ook groot sukses op sosiale media en is die liedjie, Vars Uitgekerf, al deur meer as 77 000 mense op YouTube gekyk, terwyl Roadtrip reeds meer as 44 500 kykers bereik het.

Kaartjies is te koop by Compass Academy of Learning (CAL), Geyserstraat 15, of vir verdere inligting kontak Sigrid Marshall by 082 909 1173.

redakteur.bosvelder@nmgroup.co.za

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button