Kom koekeloer by Kleuterskou
Maak nou ‘n nota in jou dagboek om Saterdag die Mokopane Noodforum se kleuterskou op Hoërskool Piet Potgieter se rugbyveld nie te mis nie.
MOKOPANE – Daar gaan nie net baba- en kleuterware te koop wees nie, maar ook genoeg aktiwiteite om die jongspan besig te hou.
Verskillende plaaslike besighede kry kans om hulle dienste en ware te vertoon en die jongklomp kan kom deelneem aan ‘n skopfietswedren, gimnastiek, danslesse en ‘n Mnr. en Mej. Kleuterskou en Babakompetisie.
Diegene wat ‘n stalletjie wil hê moet nou van hulle laat hoor. Dit kos slegs R200 waar pamflette uitgedeel mag word en kos, lekkergoed of kleuter-artikels verkoop mag word.
Die ingangsgeld is R30 vir volwassenes en R15 vir kinders.
Die kinders kan verniet aan die aktiwiteite deelneem.
Kontak Hendriëtte Williams van die Noodforumbestuur by 081 759 8661 of vir Eulogia de Wet by die Noodforum: (015) 491 2506.



