Mia Meyer – kultuurster met passie vir kunste
Op negejarige ouderdom het die graad 3-leerder van Curro Heuwelkruin, Mia Meyer reeds verskeie lêers vol sertifikate en toekennings wat sy op kultuurgebied verwerf het en sy help haar ma, Amanda, gretig om trofeë aan te dra waarmee sy kan spog. Mia is tydens die onlangse Bosveld Kunsfees as algehele wenner in die kategorie vir …

Op negejarige ouderdom het die graad 3-leerder van Curro Heuwelkruin, Mia Meyer reeds verskeie lêers vol sertifikate en toekennings wat sy op kultuurgebied verwerf het en sy help haar ma, Amanda, gretig om trofeë aan te dra waarmee sy kan spog.
Mia is tydens die onlangse Bosveld Kunsfees as algehele wenner in die kategorie vir graad 1 tot 3 aangewys en het ook trofeë vir die beste junior monoloog en beste gedramatiseerde werk ontvang. Dié kunsfees gee aan leerders geleentheid om items soos poësie, prosa, bladlees, voordrag en monoloë deel te neem wat ook voorbereide en onvoorbereide werk insluit.
Mia is uitgesproke en haar passie en liefde vir kultuur is so duidelik dat sy nie ‘n gunsteling item het nie. “Alles is vir my lekker en die Bosveld Kunsfees was ‘n wonderlike ervaring,” sê sy.
Volgens haar was sy nog nooit ‘n skaam persoon nie en vind sy dit maklik om op die verhoog te klim en met mense te praat. “Ek raak so nou en dan gespanne net voordat dit my beurt is, maar as ek eers met my items begin, keer niks my nie. Wanneer ek eers op die verhoog is, wil ek nie afklim nie. Die lekkerste is om die uitdrukkings op mense gesigte tydens my opvoering te sien en te weet hulle verstaan en waardeer dit,” sê Mia. Sy hou daarvan om gesigsuitdrukkings en beweging te gebruik om haarself uit te druk.
Mia sukkel nie met voorbereiding nie en reken dit neem ongeveer twee dae om werke vlot te ken. “Daar is baie harde werk wat ingesit word, maar ek glo die grootste faktor is talent. Net soos oom ‘n talent het om vir ‘n koerant te skryf, het ek die talent om op die verhoog te presteer,” meen sy tydens ‘n onderhoud met Polokwane Observer.
Mia neem sedert graad 1 aan verskeie kunsfeeste, redenaarskompetisies en Eisteddfods deel en het reeds erekleure by Curro Heuwelkruin ontvang. Sy is verlede jaar, toe sy maar nog ‘n graad 2-leerder was, as Kruinies se junior Kultuurpersoonlikheid van die Jaar aangewys en erekleure met ‘n bronspenning vir kultuur ontvang.
Die trofeë wat sy verlede jaar tydens verskeie kompetisies verwerf het, sluit die beste visuele kunste in die Curro-groep, beste redenaar, beste samespraak en beste gedramatiseerde werk in. Boonop het sy verlede jaar tydens die nasionale Eisteddfod algeheel sesde in die Noord-Gauteng en Limpopo-streek geëindig en ‘n algehele vierde plek in Suid-Afrika tydens die jaarlikse ATKV WOW Spelfees ingepalm.
Haar prestasies tydens die onlangse Bosveld Kunsfees spreek van haar toegewydheid aan kultuur en sy het ‘n A++ vir onvoorbereide bladlees poësie, A+ vir prosa, A+++ vir formele poësie, A+++ vir gedramatiseerde poësie, A+++ vir monoloog, A+++ vir samespraak, A+++ vir gedramatiseerde prosa en A++ vir voorbereide mimiek verwerf.
Sy het vroeër vanjaar reeds 90,5% tydens die Radikale Redenaars-kompetisie verwerf en gewys waartoe sy in staat is wanneer dit by musiek en dans kom nadat sy tydens die Tzaneen Eisteddfod ‘n goue toekenning vir dans ontvang het. Haar kultuurprogram is propvol met verskeie kompetisies waaraan sy nog wil deelneem.
Mia droom van ‘n loopbaan in die kunste, maar haar studiekeuses mag later bots omdat sy ook baie graag ‘n veearts wil word.
Storie en foto: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com



