Kom herleef die laaste week van Lydenstyd
N.G. Kerk Pietersburg-Oos nooi inwoners saam op 'n kort pelgrimstog wat ook bekend is as die kruis of die weg van lyding (Via Dolorosa).

POLOKWANE – Op hul kerkterrein te Betzstraat 97, sal daar 12 ‘stasies’ wees wat oomblikke in Jesus se lyding verteenwoordig. By elke stasie sal daar inligting wees, ‘n Bybelteks, ‘n paar vrae wat jy kan bepeins en ‘n gebed wat jy kan bid.
Inwoners begin die pelgrimstog deur ‘n rukkie in ‘die tuin van Getsemane’ te vertoef en hulself in te dink aan die stryd binne Jesus se gemoed.
“Jy moet dan dink aan Petrus wat Jesus verloën het, en aan die kladmerke op jou eie lewe. Jy gaan jou hande soos Pilatus was, ‘n kroon van dorings of doringdraad vleg, wat jy kan saamneem huis toe, jou skouers onder die gewig van die dwarshout van die kruis, Patibulum in Latyn, indruk en jou probeer indink hoe dit sou voel om die kruis te dra nadat jy regdeur die nag gemartel is, sonder kos en water moes gaan, en meer as een kilometer met die dwarshout op jou skouers moes loop,” vertel dominee Tjaart Meyer, predikant by N.G. Pietersburg-Oos.
“Jy gaan spykers in die ‘kruis’, ‘n stuk ruwe hout, inslaan, want as jy eerlik met jouself is, en jy was daardie Vrydagoggend op Golgota, het jy moontlik self die hamer gevat en spykers help inslaan. Jy gaan die graf van Jesus besoek, die wit doeke oprol en by die laaste stasie aan die opstanding dink en die implikasies hiervan vir jou eie lewe. Jy gaan ook die tekens van die nagmaal, die brood en die wyn, gebruik.”
Kom beleef dit vanaf Maandag, 26 Maart tot Donderdag, 29 Maart vanaf 09:00 tot 18:00. Op die Donderdagaand om 18:00 is daar ‘n nagmaalsdiens en almal is welkom om dit by te woon. Op dieselfde aand sal die 12 stasies oop wees tot na die diens. Kom beleef dit as lede van ‘n selgroep, ‘n omgee-groep, Bybelstudiegroep, gesin, saam met jou lewensmaat of as ‘n individu. Almal is welkom en toegang is gratis. Indien daar Engelse persone is wat die reis wil meemaak, kan hulle die kerkkantoor by (015) 295 8849 skakel sodat die kerk vir ‘n Engelse weergawe van die twee stasies kan sorg.




