Kom stap die Via Dolorosa saam met Oosgemeente
N.G. Kerk Pietersburg-Oos in Betzstraat 97, nooi lesers uit om deel te neem aan 'n kort pelgrimstog. Dié pelgrimstog is ook bekend as die weg van die kruis, of die weg van die lyding, of in Latyns die Via Dolorosa.

POLOKWANE – Die spesiale tog vind plaas van 15 April tot 19 April op die kerkterrein. Ds. Tjaart Meyer vertel daar sal 12 stasies wees wat oomblikke uit Jesus se lydingstyd verteenwoordig.
“Daar sal inligting by elke stasie wees, ‘n Bybelteks, ‘n paar vrae waaroor jy kan peins en ‘n gebed wat jy kan bid.”
Die pelgrimstog begin deur ‘n rukkie in ‘die tuin van Getsemane’ te vertoef en jouself in te dink aan die stryd binne Jesus se gemoed. Jy gaan dink aan Petrus wat Jesus verloën het, aan die kladmerke op jou eie lewe.
Jy gaan jou hande soos Pilatus was, ‘n kroon van dorings of doringdraad vleg, wat jy kan saamneem huis toe.
Jy gaan jou skouers onder die gewig van die dwarshout van die kruis, Patibulum in Latyn, indruk en jou probeer indink hoe dit sou voel om die kruis te dra, nadat jy regdeur die nag gemartel is. Sonder kos en water moes gaan, en meer as een kilometer met die dwarshout op jou skouers moes loop.
Jy gaan spykers in die ‘kruis’ inslaan, want as jy eerlik met jouself is, en jy was daardie Vrydagoggend op Golgota, het jy moontlik self die hammer gevat en spykers help inslaan.
Jy gaan die graf van Jesus besoek, die wit doeke oprol en by die laaste stasie aan die opstanding dink en die implikasies hiervan op jou eie lewe. Jy gaan ook die tekens van die Nagmaal, die brood en die wyn gebruik.
“Op die Donderdagaand, 18 April om 18:00 het ons ‘n Nagmaaldiens en enigeen is welkom om dit by te woon. Op dieselfde aand sal die 12 stasies oop wees tot na die diens.
“Kom beleef dit as lede van ‘n selgroep, Bybelstudiegroep, as gesin, saam met jou lewensmaat of as ‘n individu. Almal is welkom en toegang is gratis. Vir Engelse persone wat die pelgrimstog wil meemaak, sal daar ook ‘n Engelse weergawe wees. Nooi asseblief en gerus ook jou Engelse vriende uit.”




