Atletiekklub R27 000 armer na gewapende roof
Polokwane Atletiekklub (PAC) het ‘n gevoelige verlies van R27 000 gelei nadat twee lede, Corrie Calitz (klubvoorsitter) en Pieter Pretorius (ondervoorsitter), Vrydag helder oordag in Welgelegen deur vier gewapende mans beroof is. Calitz en Pretorius het die kontant by ‘n bank in Savannah Mall onttrek wat as kleinkas vir Saterdag se Polokwane Mayoral Road Race …

Polokwane Atletiekklub (PAC) het ‘n gevoelige verlies van R27 000 gelei nadat twee lede, Corrie Calitz (klubvoorsitter) en Pieter Pretorius (ondervoorsitter), Vrydag helder oordag in Welgelegen deur vier gewapende mans beroof is.
Calitz en Pretorius het die kontant by ‘n bank in Savannah Mall onttrek wat as kleinkas vir Saterdag se Polokwane Mayoral Road Race se inskrywings sou dien voordat hulle terug na Calitz se besigheidsperseel in Welgelegen gery het.
“Dit was ongeveer 12:15 en ek het uitgeklim terwyl Pieter nog in die bakkie gesit het. Op pad na my besigheid se deur het ‘n gewapende man agter my geskreeu: ‘Give it to me.’ Toe ek besef wat gebeur, was ek onmiddellik kwaad, maar toe ek omdraai en die pistool sien, het ek dadelik die sak met die geld weg van my af gegooi,” vertel Calitz.
Die gewapende skurk het die sak met die geld opgetel en onder sy arm vasgeknyp. Hy het verder Calitz se broeksakke deursoek en sy beursie uitgehaal waarna hy Calitz beveel het om op die grond te lê. Die verdagte het ook Calitz se horlosie ter waarde van R9 000 van sy arm af gesteel.

Terselfdertyd was twee van die ander verdagtes by Calitz se bakkie waar hulle Pretorius beveel het om hande in die lug uit te klim en weg te stap. Hulle is ook met die bakkie se sleutel vort.
“Ek vermoed hulle moes ons dopgehou en van die bank af tot in Welgelegen agtervolg het. Nie een van ons kan met sekerheid sê of ons een van die verdagtes naby die bank of inkopiesentrum tydens die onttrekking gesien het nie. Hulle het met ‘n wit Chevrolet-sedan gery en geen klapmusse gedra nie,” sê Calitz.
Calitz sê hulle is dankbaar dat hulle ongedeerd van die voorval afgekom het. “Dit is ‘n groot verlies vir die klub en ons sal nou borge vir vanjaar se Comrades Marathon-atlete moet soek. Benewens die geld wat weg is, veroorsaak dit groot ongerief wat my bestuurslisensie sowel as my persoonlike en die klub se bankkaarte betref,” sê hy.
Die polisie se provinsiale woordvoerder, Moatshe Ngoepe, het die voorval bevestig en gesê ‘n saak van gewapende roof word ondersoek. Geen arrestasies is tot dusver gemaak nie.
‘n Videogreep van die voorval is aan Polokwane Observer verskaf.
Storie: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com