Eisteddfod gala-aand weer ‘n treffer

Die Limpopo Eisteddfod se uitvoerende kuns­afdelings het Maandagoggend afgeskop met die gala-aand wat Maandagaand koormusiek­liefhebbers van heinde en verre na Laerskool Pietersburg-Oos se skoolsaal gelok het. Twee instrumentele ensembles, Akademie Reformia se slagorkes en die Becker-gesin se blokfluitensemble het die aand met uitstekende uitvoerings geopen. Die slagorkes se vertolking van die gewilde Afrikaanse treffer, ‘Eendag …

Die Limpopo Eisteddfod se uitvoerende kuns­afdelings het Maandagoggend afgeskop met die gala-aand wat Maandagaand koormusiek­liefhebbers van heinde en verre na Laerskool Pietersburg-Oos se skoolsaal gelok het.
Twee instrumentele ensembles, Akademie Reformia se slagorkes en die Becker-gesin se blokfluitensemble het die aand met uitstekende uitvoerings geopen. Die slagorkes se vertolking van die gewilde Afrikaanse treffer, ‘Eendag as ek groot is’ het luide applous uitgelok en die Beckers se weergawe van ‘Der kuckuck schrei’ was ook baie gewild.
Bekende in musiekkringe, Gisela de Villiers, het die musikale afdelings van die eisteddfod beoordeel en met lof van die musikaliteit van die leerders van Akademie Reformia asook die Becker-kinders gepraat. Sy het ook die belangrikheid van musiekopvoeding vir kinders beklemtoon en verduidelik hoe musiek, veral om in ‘n groep te sing of te speel, die kind se ontwikkeling aanhelp.
Daarna het nege kore van vier laerskole asook die kamerkoor, Ensemble Esprit, ge­wys dat daar beslis baie talentvolle kore in Polokwa­ne is. De Villiers, self ‘n voormalige inwoner van die stad wat verskeie kore afgerig het, het in haar repliek gesê dat sy beslis in Gauteng met die hoë standaard van plaaslike kore gaan spog.

Limpopo Eisteddfod-beoordelaar, Gisela de Villiers, verduidelik hoe belangrik musiek­opvoeding vir ‘n kind se ontwikkeling is.

Ensemble Esprit het ‘n besondere vertoning gelewer wat die gehoor tot stille verwondering gedwing het. Die lied waarmee hulle die aand afgesluit het, ‘Oh Shenandoah’, is deur De Villiers as verruklik beskryf.
Marné Ebersohn Akademie se junior-, se­­nior- en hoërskoolkoor, onder leiding van Hanlie Ebersohn, het beïndruk met lewendige vertolkings van ou gunstelinge sowel as nuwe verwerkings. De Villiers het Ebersohn vir haar harde werk en impak op die kinders se lewens bedank.
Curro Heuwelkruin se juniorkoor, onder leiding van Dalené van Wyk en seniorkoor, onder leiding van Neylem Rodriguez, se op en wakker vertol­kings het hul groot gunstelinge onder die gehoor gemaak. Veral die seniorkoor se prettige weergawe van ‘Little people’ uit die musiekblyspel, Les Miserables, het groot aanklank gevind.
Oosskool se junior- en seniorkoor het weer gewys waarom hul jaar na jaar uit­stekende resultate tydens die ATKV Applous-koorkompetisie behaal. Beide kore is onder leiding van veteraanafrigter, Rita Erasmus, en het die gehoor in die palm van hul hand gehad.
Die twee kore van Akademie Reformia het aangenaam verras en uitsonderlike punte behaal. De Villiers het hul afrigter, Ans Becker, op die kore se hoë standaard en homogene klank gekomplimenteer. Sy het ook die seniorkoor se sopraanklank as uitsonderlik uitgelig en beklemtoon.
Die volledige uitslae van die Limpopo Eisteddfod sal volgende week op Polokwane Observer se webblad verskyn.

Storie, foto’s & videos: MARKI FRANKEN
>>marki.observer@gmail.com

 

Akademie Reformia se slagorkes onder leiding van Marissa Linde.
Laerskool Pietersburg-Oos se seniorkoor sing onder leiding van Rita Erasmus.
Ensemble Esprit, onder leiding van Jannie Becker.
Marné Ebersohn Akademie se juniorkoor lewer ‘n lewendige vertoning.
Curro Heuwelkruin se juniorkoor word deur Dalené van Wyk afgerig.
Die juniorkoor van Akademie Reformia skitter met hul vertolking van ‘Hey diddle diddle’.
Oosskool se juniorkoor vul die skoolsaal met hul helder stemme.
“A sparrow in a hat can make a happy home” sing Curro Heuwelkruin se seniorkoor.
Marné Ebersohn Akademie se seniorkoor sing opgewekte gospelliedjies.
Die seniorkoor van Akademie Reformia sing ‘A child’s prayer’.
‘n Byderwetse verwerking van ‘Cups song’ uit die gewilde fiek, Pitch Perfect deur Marné Ebersohn Akademie se hoërskoolkoor.

 

 

Back to top button