Gewapende rowers blaas kluis by Ultra City op
Vier gewapende rowers het gister (Woensdag) in die vroeë oggendure op Shell Ultra City, op die N1-suid, toegeslaan waar hulle petroljoggies en ‘n klant aangehou en die valkluis in die winkel met plofstof opgeblaas het. Die verdagtes het met die kluis en ‘n onbekende hoeveelheid kontant gevlug. Lourens Britz, ‘n kontrakteur wat by Lunds werksaam …
Vier gewapende rowers het gister (Woensdag) in die vroeë oggendure op Shell Ultra City, op die N1-suid, toegeslaan waar hulle petroljoggies en ‘n klant aangehou en die valkluis in die winkel met plofstof opgeblaas het.
Die verdagtes het met die kluis en ‘n onbekende hoeveelheid kontant gevlug.
Lourens Britz, ‘n kontrakteur wat by Lunds werksaam is, was besig om brandstof in te gooi toe hy glo deur een van die skurke genader is.
Lunds se algemene bestuurder, André du Plessis, sê ‘n getraumatiseerde Britz het hom sy nagmerrie vertel. “Dit was vir hom vreemd dat geen petroljoggie naby die petrolpompe was nie. Toe hy sy venster oopmaak, het een van die verdagtes ‘n pistool teen sy kop gedruk en hom beveel om uit sy voertuig te klim. Britz se een been is vroeër vanjaar geamputeer en hy het die skurk meegedeel dat hy nie die opdrag kan uitvoer nie. Die man het Britz se selfoon gegryp en op die grond stukkend getrap asook sy motorsleutels gevat. Hy het glo vir Britz gesê dat hulle hom gaan skiet en sy veteraanmotor gaan neem sodra die kluis in hulle voertuig is.”
Britz het volgens Du Plessis gesien hoe al die petroljoggies in die wagkamer met geboë koppe sit. “Britz sê daar was skielik ‘n verskriklike slag en ‘n skerp lig in die winkel en van die rowers het met die kluis na ‘n blou Audi met registrasienommer: DN 61 ST GP gehardloop en gevlug. Geen skote is afgevuur nie, maar Britz is erg geskok,” sê Du Plessis. Die vulstasie was tot laat gisteroggend steeds afgesper terwyl die polisie hul ondersoek afgehandel het. Provinsiale polisiewoordvoerder, Moatshe Ngoepe het die voorval bevestig en gesê vyf verdagtes waarvan een gewapen was het by die vulstasie aangekom.
“Hulle het die winkel binnegegaan en geld uit kasregisters gehaal, die kluis opgeblaas en met ‘n onbekende bedrag geld gevlug,” sê Ngoepe.

Storie & foto: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com