Mensehandel skok leerders
Die skokkende waarheid oor mensehandel het leerders van Westenburg Sekondêre Skool Dinsdag getref toe twee van hul maats voor hul oë ‘ontvoer’ is. Suid-Afrikaners gedenk vandeesweek Nasionale Kinderbeskermingsweek en Polokwane Kinder- en Gesinsorgvereniging het met Stop Trafficking of People (Stop) saamgespan om jong mense meer paraat teen die gevaar van mensehandel te maak. Tydens Lorette …
Die skokkende waarheid oor mensehandel het leerders van Westenburg Sekondêre Skool Dinsdag getref toe twee van hul maats voor hul oë ‘ontvoer’ is.
Suid-Afrikaners gedenk vandeesweek Nasionale Kinderbeskermingsweek en Polokwane Kinder- en Gesinsorgvereniging het met Stop Trafficking of People (Stop) saamgespan om jong mense meer paraat teen die gevaar van mensehandel te maak.
Tydens Lorette Bosch, maatskaplike werker van Polokwane Kinder- en Gesinsorgvereniging, en Corinne Sandenbergh, direkteur van Stop, se besoek aan Westenburg het Sandenbergh haar as talentsoeker wat deelnemers vir ‘n nasionale talentkompetsie werf, voorgedoen. Sy het twee leerders na die verhoog genooi waar hulle skielik gegryp en vasgebind is.
Sandenbergh het aan die geskokte leerders verduidelik dat die ‘ontvoering’ ‘n praktiese demonstrasie is van hoe maklik dit is om in gewetenlose mensehandelaars se kloue te beland.
Sy het leerders met vyf reëls vir veiligheid toegerus: “Moet nooit alleen iewers heen gaan nie, vermy mense wat jy nie ken nie, lig altyd jou ouers of voogde oor jou doen en late in, moet nooit persoonlike inligting aan ‘n vreemdeling gee nie en onthou dat die gereg altyd aan jou kant is,” het sy verduidelik.
Bosch het aan leerders vertel dat mensehandel naas wapen- en dwelmhandel die lonendste bedryf ter wêreld is en daarom baie moeilik is om stop te sit.
Storie, foto’s & video: THINUS DU TOIT
>>thinus@observer.co.za