Osie-ballonne soos God se boodskappers
Die lugruim bo Laerskool Pietersburg-Oos (Oosskool) is verlede Donderdag in ‘n kleurvolle skouspel omskep toe leerders honderde ballonne ter viering van Hemelvaart losgelaat het. Die leerders het tydens saalopening na ‘n boodskap van Sammy Vorster, graad 4-voog, oor die Heilige Gees en God se wapenrusting geluister voordat hulle na die rugbyveld beweeg het en volgens …
Die lugruim bo Laerskool Pietersburg-Oos (Oosskool) is verlede Donderdag in ‘n kleurvolle skouspel omskep toe leerders honderde ballonne ter viering van Hemelvaart losgelaat het.
Die leerders het tydens saalopening na ‘n boodskap van Sammy Vorster, graad 4-voog, oor die Heilige Gees en God se wapenrusting
geluister voordat hulle na die rugbyveld beweeg het en volgens ‘n ses jaar oue tradisie in die vorm van ‘n reuse kruis aangetree het.
Vorster het die leerders in gebed gelei, waarna die ballonne vrygelaat is. Volgens Ingrid Pelzer, Osie-leerkrag, was die ballonne wat die wye wêreld ingewaai het simbolies van hoe Christene as God se boodskappers die hele wêreld moet ingaan.
Skoolhoof, Gideon Pelzer, het die skool opnuut aan God opgedra. “Oosskool is ‘n skool wat homself voor God verootmoedig en erken dat ons totaal van Hom afhanklik is. Ons vier Hemelvaart uit eerbied vir Hom en erken ook dat God ons enigste Koning is.”
Zuleike Visser, graad 7-Osie, het verduidelik dat Christene Hemelvaart vier omdat dit hul daaraan herinner dat Jesus weer terugkom op dieselfde manier as wat Hy na die hemel opgevaar het.
Die verrigtinge is met gewyde sang afgesluit, waarna leerders vir pouse verdaag het.
Storie en foto’s: THINUS DU TOIT
>>thinus@observer.co.za


