Pedro Kruger se klavierkuier ‘n gunsteling

Gewilde televisiepersoonlikheid en pianis, Pedro Kruger, het verlede Donderdagaand gaste by die NG Kerk Pietersburg-Oos laat skaterlag met sy eenmanaanbieding wat hy Klavierkuier met Pedro noem. Vertellings uit sy grootworddae tot by sy optredes by konserte in die buiteland het gaste ‘n dieper beeld gegee van dié veelsydige kunste­naar wat jare lank die program Leriekeraai …

Gewilde televisiepersoonlikheid en pianis, Pedro Kruger, het verlede Donderdagaand gaste by die NG Kerk Pietersburg-Oos laat skaterlag met sy eenmanaanbieding wat hy Klavierkuier met Pedro noem.
Vertellings uit sy grootworddae tot by sy optredes by konserte in die buiteland het gaste ‘n dieper beeld gegee van dié veelsydige kunste­naar wat jare lank die program Leriekeraai op televisie aangebied het.
Kruger het vertel dat sy lewe ‘n nuwe wen­ding geneem het toe hy besef en aanvaar het dat mens net jouself moet wees. “Toe ek daarmee vrede gemaak het dat dit oukei is om te sê jy is nie oukei nie, het ek die lewe se uitdagings met nuwe ywer aangepak en kan nou net blessings uitdeel.”
Sy ervaringe as jong man in die weermag, wat begin het met die harde werklikheid van basiese opleiding en hom later as klerk in die kantoor van die kapelaan laat eindig het, het die gehoor geboei en baie laat terugdink aan hul eie ervaringe. “Ek het dit teen die einde so geniet dat ek dit na twee jaar sterk oorweeg het om permanent aan te sluit, tot groot onsteltenis van my pa wat aangedring het dat ek dadelik terugkom huistoe,” vertel hy.
Kruger het vertel dat een van sy eerste konserte by die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) net 16 mense gelok het. “Ek het deurgedruk met die optrede en het daarna uitgevind dat daar drie belangrike beoordelaars in die klein gehoor gesit het wat as gevolg van die konsert vir my baie deure opgemaak het. Toe het ek geleer dat mens nie kwaliteit met kwantiteit moet verwar nie”.
Kruger het sy konsert afgesluit met ‘n keurspel wat gewilde treffers soos ‘Piano Man’ en Lisa se Klavier ingesluit het. Hy het na die konsert lank met gaste gekuier by die kaas- en wynete en sy nederigheid en gemaklike omgang met sy nuwe vriende was opvallend.

Storie en foto’s: BARRY VILJOEN
>>barryv.observer@gmail.com

Pedro Kruger vertel sy stories.
Willem Swiegers, Pedro Kruger en leraar van die NG Kerk Pietersburg-Oos, Tjaart Meyer, gesels voor die konsert.
Annemarie en André Bakker kuier na die konsert.
Gemeentelede, Hannes en Retha Lerm geniet die kaas- en wynete.
Charlotte van den Berg en Susie Wentzel is aanhangers van Pedro Kruger.
Back to top button