Skaapkop ‘n lekkerny van keuse
Die populêre Skaapkopaand by Pietersburgklub is deur ‘n stampvol saal, heerlike kos, boeremusiek en gesellige samesyn gekenmerk. Fynproewers was dit eens dat die goudbruin gebraaide skaapkoppe met keurig voorbereide groente en stampmielies onverbeterlik was. Kerrie-afval, biefstuk en beesstert was ook op die spyskaart om te verseker dat oningewydes, en enkele dames wat die geleentheid meegemaak …

Die populêre Skaapkopaand by Pietersburgklub is deur ‘n stampvol saal, heerlike kos, boeremusiek en gesellige samesyn gekenmerk.
Fynproewers was dit eens dat die goudbruin gebraaide skaapkoppe met keurig voorbereide groente en stampmielies onverbeterlik was. Kerrie-afval, biefstuk en beesstert was ook op die spyskaart om te verseker dat oningewydes, en enkele dames wat die geleentheid meegemaak het, iets anders te ete het.
“Skaapkop is ‘n lekkerny van keuse en baie spesiaal. Die regte eetgerei en kleredrag is belangrik,” het ‘n gesoute skaapkopeter verduidelik terwyl hy sy lippe afgelek het en sy Joseph Rodgers-knipmes aan sy voorskoot afgevee het.
Sjef, Wilson Matshetela, sê 121 skaapkoppe is vir die geleentheid voorberei. “Ons kook die koppe eers vir 30 minute in soutwater, bedruip dit met ‘n spesiale kerriesous en draai in foelie toe waarna dit vir sowat 30 minute teen 200º C in die oond gebak word,” en voeg by dat die koppe in twee sessies voorberei is en voor bediening vir ‘n paar minute in die oond opgewarm en verbruin word. Skaapkop is volgens Matshetela nie ‘n vaste dis op die klubspyskaart nie, maar word spesiaal by ‘n verskaffer bestel en voorberei indien groepbesprekings gemaak word.
Lank nadat die skinkbord met oorblyfsels van die koppe wat sorgvuldig skoongeëet is, weggedra is, het gaste nog gesellig saamgekuier en hul in die boeremusiek wat deur die Bekvellers verskaf is, verlustig.
Storie, foto’s en video: BARRY VILJOEN
>>barryv.observer@gmail.com


tersburgklub, Dani Ramantswane, Wilson Matshetela, Muzi Hlophe en Carla Röttcher gereed om gaste te bedien.


